Ek wonder oor verskeie goed in die lewe en dis selde of ooit iets wat ’n verskil gaan maak aan my saligheid.
Word rolprentsterre en supermodelle nooit honger nie? Hoe voel dit vir Oprah om een van die bekendste en rykste mense ter wêreld te wees?
Hoekom hou honde nie van katte nie?
Ek wonder hoe gebeur dit dat my juwele altyd gekoek is. Ten spyte daarvan dat ek my krale, oorbelle en armbande netjies neersit soos ek dit afhaal, lyk my juweelbak soos ’n kraaines.
Ek wonder oor daardie een toilet in ’n openbare kleedkamer wat dikwels gesluit is. Van binne. Dit klink altyd of daar niemand is nie, maar jy kan twee uur wag en niemand sal uitkom nie. Hoekom is dit gesluit en is daar dalk mense wat met hul voete bo-op ’n toiletbak sit en slaap?
Ek wonder hoe voel dit om so groot soos Kobus Wiese te wees. Hoe maak hy sy skoenveters vas en watter grootte jeans dra hy? Hoe pas hy in ’n motor se sitplek en wat nog te sê in ’n vliegtuigsitplek? Ek wonder ook hoe ... Toemaar.
Ek wonder hoekom loop liggaamsbouers altyd of hulle koorsblare op hul testikels en onder hul armholtes het. Dink hulle dis aantreklik? Of is daar iets soos die liggaamsbouer-loop (soos die moonwalk• wat jy noodwendig moet aanleer? Is dit nie genoeg dat jy reeds soos ’n orangoetang lyk nie; moet jy soos een loop ook?
Ek wonder hoekom mense wie se asem sleg ruik dit nooit besef nie?
Ook hoekom hul familie nooit vir hulle daarvan sê nie? As jy dit op ’n afstand kan ruik, hoe is dit moontlik dat hul geliefdes dit net ignoreer? En, erger nog, liggaamsvloeistowwe met hulle ruil?
Ek wonder oor die haarstyl van sommige mense.
Kyk, elkeen vir homself en die Vader vir ons almal, maar waar kom middeljarige, Suid-Afrikaanse vroue aan daardie kaal-in-die-nek-en-deksel-op-die-kop-kapsel waaraan hulle so verknog is? Jy lyk nie net onmiddellik tien jaar ouer nie; jy lyk ook soos almal.
Selfs my haarkapper stem saam.
Peter is een van Kaapstad se gewildste haarkappers en jy wag omtrent drie maande om ’n afspraak by hom te kry, so die man weet iets van hare sny.
“Terrible, terrible,” snak Peter. “And when they start to colour it maroon ...
“Oh dear, dear ...”
Dit bring ons by die sweetpak-en-Crocs-brigade.
Daar is vroue wat so min moontlik moeite doen om net effens aantreklik te lyk en ’n mens wonder hoekom. Jy hoef nie elke dag in die nuutste modes te pronk en in stiletto’s te gaan inkopies doen nie, maar ’n sweetpak is oorspronklik ontwerp vir die doel van oefening. Dra dit wintersaande by die huis.
Crocs, as jy nou regtig moet, is bedoel vir tuinwerk of as jy herstel ná ’n liddoring-operasie. Jy kan Pappa nie blameer as hy na Loslit Lettie loer omdat jy soos Konsistorie Kotie lyk nie.
Ek wonder hoekom kos wat lekker is altyd ongesond is. Hoeveel makliker sou die lewe nie gewees het as room, pasta, aartappels, koek en muffins min of geen kalorieë gehad het nie en almal moes wye draaie loop om wortels, blaarslaai, vis en opgekookte hoenderborsies?
Ek wonder hoekom is daar so baie bed-winkels in Kaapstad. Op hoeveel beddens slaap ’n mens gemiddeld in jou lewe? Drie? Vier? Jy koop nie elke twee weke een nie. Nie eens elke jaar nie. Tensy jy ses keer op ’n dag seks het met Kobus Wiese. Miskien het dit iets te make met die titel Slaapstad?
Ek wonder hoekom krap mans so graag op ’n sekere plek. Jeuk dit werklik so baie of maak hy net seker die kroonjuwele is nog daar? Stel jou voor vrouens loop heeldag en krap.
Sal dít nou ’n aardige prentjie afgee.
My vriend Kobus wonder hoe oud is Spur se uieringe. Hy wonder ook waarmee hulle die tamatiesous en mayonnaise verdun. En hoe oud is die olie waarin die aartappelskyfies gebraai word. Ek wonder eenvoudig hoekom gaan mense Spur toe.
Ek wonder wat het ons president op Valentynsaand gedoen. Dinner for six gevolg deur ’n borrelbad-bonanza?mbelling@rapport.co.za