‘Broeders’ wurg ons

Die artikel van Koos van der Merwe “Broederbond-spook: Wat is die waarheid?” (12 Februarie) verwoord miljoene voorheen benadeelde Afrikaanse mense se soeke na die waarheid.

Dié miljoene word die groepnaam “Afrikaner” ontsê deur ’n klein groepie Super-Afrikaners wat oor dekades onder die voorwendsel van “bevordering van die Afrikaner-saak” hulself verryk het ten koste van mede-Afrikaners.

Die gevoel onder Afrikaners is dat alle Afrikaners wat nie deel was van die Broederbond nie, voorheen benadeeldes is. Is dit waar? Die waarheid kan net uitkom as Afrikaners se eie waarheid-en-versoeningskommissie die waarheid oor die Broederbond en sy duistere verlede oopvlek.

Dan sal almal ook weet of die Broederbond-tentakels vandag nog verskeie terreine van ons samelewing doodwurg.

My definisie van Afrikaners is almal wie se huistaal Afrikaans is: wit, bruin, swart en pienk.