Cas van Rensburg, Onrusrivier
Ek reageer gewoonlik nie op resensies nie, maar wil ’n paar gedagtes opper oor sekere stellings deur Wilhelm Jordaan in sy resensie van my boek Die prinses in elke vrou in Rapport Boeke van 5 Februarie.
Hy sluit ’n baie positiewe resensie af deur te verwys na sekere lastighede en vervolg: “Soos Van Rensburg se onkritiese aanvaarding van Jungiaanse begrippe, byvoorbeeld individuasie waarvolgens elke lewende ding (ook mense) se lewensbestemming geneties vasgelê is. Uiteraard is dit ’n ontoetsbare hipotese wat maak dat betekenis-eksegese plek-plek lukraak en naïef is.”
Ek begryp nie sy stelling nie.
Onderliggend aan die begrip individuasie is tog die gedagte dat ’n mens oor die vermoë tot innerlike groei beskik en sy eie unieke potensiaal kan verwesenlik. Dit is myns insiens nie ’n hipotese wat hoegenaamd nog getoets moet word nie. (Volledige brief: “Briewe”, www.rapport.co.za)