“Ons moet versigtig wees om ’n Springbokafrigter op ’n troon te plaas voordat hy hom bewys het”
Prof. Julian Smith se artikel “Witgesmeerde aanstelling?” in Weekliks (12 Februarie) het betrekking. Hy slaan die spyker op die kop dat die deursigtigheid in Heyneke Meyer (foto) se aanstelling bevraagteken behoort te word.
Net so stem ek saam dat die voortydige lofsange vir Meyer ontsettend naïef en byna koddig is. Die arme man word as ’n “messias” gesien wat Suid-Afrikaanse rugby gaan “red”. Hoe gaan Meyer ooit hierdie druk verwerk en hoe gaan dieselfde skrywers en kommentators reageer as dinge in die internasionale rugbyarena nie volgens plan verloop nie?
Wat as Meyer se rekord ná ’n jaar of twee swakker lyk as Div s’n? Of Jake White s’n? Of Nick Mallett s’n? Ons moet versigtig wees om ’n Springbokafrigter op ’n troon te plaas voordat hy hom bewys het. Die rugbypubliek het nie baie geduld met ’n verloorspan nie en dit het byna altyd ’n negatiewe gevolg vir die afrigter.
Ongelukkig is dit ook hier waar ek die prof moet aanvat.
Sy hele artikel handel oor die konsep van “eiebelang”: die persepsie van jubelsange ná die mislukking van ’n “afrigter van kleur” teenoor die voortydige ophemeling van ’n afrigter wat ’n “terugdraaipunt” weerspieël.
Prof, jy was in die keurkomitee wat Div aangestel het. Het jy ooit in daardie stadium vir jouself of vir die Saru-bestuurslede gevra of dit werklik nodig is om ’n nuwe breier aan te stel? Toe ons in die Wêreldbeker-toernooi in 2007 gewen het, het jy hopelik saam met die res van die land gejuig. Ek aanvaar dat jy dalk ook vir White ’n bietjie krediet gegee het. Het dit dus enige sin gemaak dat hy deur ’n nuwe breier vervang moes word? Natuurlik sou dit altyd ’n resep vir ’n fiasko wees indien die persoon swakker vaar as White . . . Die wenners van 2007 het nie eens in 2011 die halfeindstryd gehaal nie.
Wat se reaksie het jy verwag met Meyer se aanstelling?
Waarom mag daar sonder seremonie ontslae geraak word van ’n White of ’n Mallett of ’n Carel du Plessis of selfs ’n André Markgraaff? Maar Div, wat ’n politieke aanstelling was, se afdanking moet met handskoene gehanteer word om te verhinder dat die raskaart te sensitief raak, volgens jou, professor.
Nee wat, die politieke besluitnemers moet aanhou slaap in die bed wat hulle help opmaak het. Reg van die begin af was Div se aanstelling gegrond op ideologie eerder as meriete. En ons kan nie eens sê dit was ’n wit “persepsie” nie. Selfs al het die formele mandaat nie uitgelek nie, sou min werklike rugbykenners ooit in daardie stadium geglo het dat Div se aanstelling bo White en Meyer ’n “deursigtige” proses was.
En prof . . . werklike rugbyliefhebbers romantiseer nie “belewenisse van die verlede” nie.
Ons hunker ook na ’n era waarna jy verwys, ’n verbonde toekoms wat moet gestalte vind in ’n kenmerkende nasionale identiteit. En dit kan slegs gebeur as spelers en afrigters op meriete beoordeel word.
Kom ons doen finaal weg met enigiets wat met velkleur te doen het.