Bruines stem téén ANC, nie vír DA

Die meerderheid bruin kiesers van die Wes-Kaap stem nie vir die DA nie, hulle stem eerder téén die ANC in die afwesigheid van ’n beter alternatief. So word die afgelope week aan my gesê.

Dis dalk waar. Baie kiesers op plaaslike regeringsvlak, egter, beloon die DA vir die goeie werk. Tog sal hy meer moet doen om sy bruin magsbasis te verstewig.

Bruin kiesers, waarvan die oorgrote meerderheid in die Wes-Kaap woon, vlug al sedert 1994 vir die ANC, onder meer weens die Swart Gevaar-taktiek van daardie tyd. Sedertdien is dit die swak regering, korrupsie, nepotisme en allerhande skete in die ANC wat hulle nie lus maak vir die party nie.

Verlede jaar, ná die plaaslike regeringsverkiesings, moes ons regerende party wéér met ’n skok besef hy word toenemend deur die minderhede, en veral ook bruin kiesers, verwerp.

Die redes hiervoor?

Jy kry toenemend mense wat sê dis omdat die ANC bruin mense slegter behandel as die apartheidsbewind. Dat sy nie-rassige beleid net op papier bestaan.

Die ANC se swak kommunikasie met die bruin gemeenskap speel wel ’n rol.

En daar’s ’n kultuurgaping. Op vergaderings – wat dikwels op Sondae geskied, die kerk- en rusdag vir bruines – sing die ANC’s meestal Xhosa- en Zoeloe-liedere.

In die Weskus blameer mense die ANC oor hul kreefkwotas wat weggeneem is. Dié wat het, sê kwotas is glo nou vyf keer minder as voorheen.

Voorts kla sommige oor die verengelsing van feitlik alle naskoolse opvoedkundige instellings, wat tot nadeel is van veral plattelandse voornemende studente.

Dan praat ek nie eens van die Malemas en die Manyi’s nie.

Regstellende aksie word ook misbruik.

Rapport het byvoorbeeld verlede week berig oor die enorme probleme van beamptes van korrektiewe dienste in die Wes-Kaap en van die DKD se plan om byna 80% van die werknemers swart te kry, dus volgens die nasionale norm. Hierdie is ’n probleem wat die afgelope ses jaar sloer. Raai net watter DKD-beampte se gesin gaan ANC stem?

Die bruin matrieks oorweeg glo nie eens meer die DKD as werkplek nie.

Verder word bruin kandidate se aanstelling of bevordering gedwarsboom terwyl vele swart ingevoerde kandidate met matriek ná drie jaar ervaring kapteins word. Dis nou dié amptenare wat verantwoordelik is vir die rehabilitering van die gevangenes, van wie die meeste in die Wes-Kaap bruin en Afrikaans is . . .

En dis waar ek by die DA wil uitkom.

Ná verlede week se berig hieroor sou mens verwag die DA se skaduminister oor korrektiewe dienste, mnr. James Selfe, sou darem ’n verklaring hieroor uitreik, soos politieke partye dikwels doen nadat hulle die Sondagkoerante bestudeer het.

Maar oor dié kwessie was daar nog g’n enkele sprak of sprook van die agbare Selfe of die DA nie. Ook nie toe verskeie bruin leiers verlede jaar met mnr. Marius Fransman, Wes-Kaapse ANC-leier, hieroor gaan praat het nie.

Jy sou verwag dat hier ’n geleentheid was, eintlik vir albei partye, om die meerderheid in die Wes-Kaap te wys hulle dra hul belange op die hart.

Dit laat mens dink.

Is die DA so besig om na swart steun te soek dat hy nie sy vingers wil vuil maak nie?

Vir my lyk dit bruin kiesers bevind hulle wel tussen hamer en aambeeld.

Jacob Rooi

DIE ANDER KANT