Danie van Jaarsveld, per e-pos
Egmont Sippel se artikel “Junior Motor van die Jaar” (Rapport Weekliks, 12 Februarie) het betrekking.
In die artikel poog mnr. Sippel om die jurie van die SA Gilde van Motorjoernaliste en WesBank se Motor van die Jaar-kompetisie se aansien aan te tas deur halwe waarhede en wanvoorstellings.
Die feite is baie eenvoudig:
1. Die gilde se lede het gestem en die meerderheidsbesluit oor hoe om die jurie te aan te wys, is in werking gestel.
2. Hierdie proses is op die algemene jaarvergadering ter tafel gelê sonder dat enige besware geopper is.
3. Mnr. Sippel is herhaaldelik per e-pos en telefonies genooi en aangemoedig om aan die proses deel te neem, wat hy ten spyte van verskeie ondernemings nooit gedoen het nie.
4. Die inligting waarop die juriekeuse gegrond is, is twee keer nagesien en onafhanklik geoudit sonder om enige aangestelde jurielede te diskwalifiseer.
5. Mnr. Sippel is genooi om deel te wees van die beoordelingsdae as ’n mentor, om sy kennis en ervaring met die nuwer jurielede te deel. Hy het hierdie uitnodiging aanvaar, maar het op die nippertjie onttrek omdat daar ander sake was wat al sy aandag geverg het.
Mnr. Sippel se afwesigheid is te wyte aan sy eie nalatigheid en sy onvermoë om sy eie ondernemings aan die gilde se bestuursliggaam na te kom.
Om nou voor te gee dat die kompetisie weens sy afwesigheid tekort skiet, is onregverdig.