’n Verbete geklou aan dít wat ons dink ons ken

Of jy nou van die huisdokter Manduleli Bikitsha se pienk huis hou of nie, hy is ’n man van sy woord.

Want nege jaar gelede sê hy vir Rapport die bure kan maar te kere gaan tot hulle blou is in die gesig, “my huis bly pienk”. En sowaar. Sy dubbelverdiepinghuis in Pintailweg in Somerset-Wes is steeds so pienk – presies dieselfde Hello Kitty-pienk – as die dag van sy “geboorte”.

Wys jou kleur sit nie in ’n man se klere nie.

In 2001 het Bikitsha ’n erf gekoop in die destydse nuwe ontwikkeling Somerset Ridge. ’n Jaar later het hy begin bou. Die argitek het mooi geluister na sy aanwysings oor argitektoniese fatsoene wat die tradisionele Afrika-hut moet weerspieël.

In 2003 het Bikitsha en sy juffrou-vrou met hul seuns ingetrek. Bure het gekla (vandaar die Rapport-storie) én spuitverwers het die K-woord en “pinck sucks” vir hom gelos om weer (pienk) te verf.

Bikitsha is ’n Westerse mediese dokter, maar is ook geïnteresseerd in en verbonde aan sy Afrika-herkoms. Dis redelik duidelik binne minute nadat ons by ’n Italiaanse eetplek in die Waterfront gaan sit vir koffie én sy BlackBerry knaend knor én hy my die geskiedenis van die Fort Malan naby sy Transkeihuis vertel. (Sý weergawe is sekerlik nie dié wat die sendelinge graag oorvertel nie en ook nie die een wat jy in die Kafir Scholar’s Companion sal kry nie. So, seën al die verskillende vertellers en skrywers van dieselfde geskiedenis.)

Hoe ook al sy: Bikitsha het destyds met sy voorvaders oor die huis gepraat en hulle het hom na die ronde vorms en die kleur pienk gelei. In drome en ingewings. Niks vreemds vir iemand wat die tradisionele godsdiens van Afrika navolg nie.

Hy het steeds ook ’n huis in Willowvale in die destydse Transkei waar sy oer-oupa hom in 1818 gevestig het. Hy gesels entoesiasties oor die geskiedenis van die omgewing, waar sy oudste seuns onlangs besny is. Hierdie besnydenis van twee moderne seuns uit private skole in die Kaap het gelei tot die maak van ’n dokumentêre prent.

Intussen is die Somerset-Wes-huis steeds pienk. Hello Kitty, waatlemoen, malvalekker-op-steroïede, weet nie wat mens dit sal noem nie. Dis ’n versnit van kleure en die kode word bewaar deur ’n winkel in die Somerset Mall, spog hy.

Met die koms van die pienk huis het die wêreld toe nie ophou draai nie. Die wêreld het ons wel tot binne-in ons sokkies geruk met gebeure soos 9/11 en die wêreld het ook ingeplof in ons eie huise, ongeag die kleur, met ons verdiende en onverdiende mate hartseer.

Dr. Bikitsha het ook nie in hierdie tydperk seremoniële diere op sy erf geslag en ’n vlieëplaag in Somerset-Wes en die Strand ontketen nie.

Hy’t ook nie ’n peloton tsotsi-vriende oorgenooi om die vroue en hul dogters van Somerset-Wes te kom vermoor en verkrag nie.

Waaroor dus destyds die bohaai?

Seker maar oor ons bang is vir dit wat ons nie ken nie en verbete klou aan dit wat ons dink ons ken.

Die mooiste van die storie? Dr. Bikit­sha is besig met sy MBA, Magister in Bedryfsadministrasie. Hy gaan die universiteit vra om op gradedag nie vir hom op die kop te tik nie, maar wel sy ma, Minora Nothembile Bikitsha, wat in die Transkei-huis woon en elke dag steeds in die groentetuin werk. Want sy, wat nege kinders gehad het, is die beste administrateur, leier en bestuurder wat hy ken.

Boonop gee ons ons eredoktorsgrade dikwels vir die verkeerde mense. Hoekom is die ma’s van die Madibas en Beyers Naudé’s nie so vereer nie, vra hy as voorbeeld.

’n Pienk stelling? Miskien, maar laat die idee ’n bietjie rus en dink weer.

Rachelle Greeff

VOORWOORD