Sebras het strepe om vlieë weg te hou

’n Span Hongaarse en Sweedse wetenskaplikes glo hulle het uiteindelik een van Afrika se grootste raaisels opgelos.

Omdat hulle weet dat perdevlieë meer aangetrokke is tot swart perde as wittes het hulle begin wonder of ’n sebra se strepe nie ’n rol speel om dié diere teen die bloedsuiers te beskerm nie.

Hulle het daarom gaan navorsing doen op ’n plek met baie vlieë: ’n perdeplaas naby Boedapest, Hongarye. Hulle het geëksperimenteer met swart-en-wit-gestreepte patrone van verskillende wydtes en teen verskillende hoeke. Deur die vlieë met gom en olie op die strepe te vang het hulle vasgestel dat smal gestreepte patrone die minste perdevlieë lok.

Wetenskaplikes weet ook dat perdevlieë die polarisasiepatrone van lig wat van water weerkaats word, kan sien en dat die vlieë dit gebruik om waterpoele te vind om hul eiers te kan lê. Verdere navorsing het getoon die polarisasiepatroon van lig wat van ’n sebravel gereflekteer word, stem ooreen met die polarisasiepatrone wat die mins aantreklike vir die vlieë is. Die afleiding is dat sebras strepe het om steekvlieë weg te hou!