Heksejag sal gepaste kandidate afskrik

’n Mens kan altyd op my ou vriend mnr. Koos van der Merwe, IVP-LP, vertrou om uitlokkende vrae te opper.

In Weekliks verlede Sondag vra hy ’n baie pertinente vraag: “Hoe besluit die Regterlike Dienskommissie (RDK) watter kandidaat om as regter aan te stel?”

Ek glo nie dat hulle daarin slaag om die regbank van politieke aanstellings te beskerm nie. Dit sal noodwendig gebeur met ’n RDK waarvan die meerderheid lede ANC-ondersteuners is.

Die vrae wat adv. Dumisa Ntsebeza tydens verlede jaar se sitting aan kandidate gevra het, suggereer dat kandidate vir die regbank ’n soort politieke heksejag moet oorleef.

Terwyl swart kandidate se struggle-agtergrond van naderby ondersoek word, word talle wit kandidate se bande met die Afrikaner-Broederbond (AB) eindeloos bevraagteken.

Ek sal geïnteresseerd wees om te weet of huidige en voormalige lede of meelopers van die SAKP net so deeglik ondervra word as voormalige Broederbond-lede.

Die SAKP het immers gedurende die struggle-jare Moskou slaafs nagevolg, selfs ná glasnost. Hulle het bitter min respek vir juridiese onafhanklikheid en die oppergesag van die reg en beskou dit as ’n “liberale illusie”.

Van regters in die ou Sowjet-stelsel is verwag om die Kommunistiese Party se wense tot op die letter uit te voer. En, moet ’n mens byvoeg, die SAKP het ’n veel groter invloed op die ANC in ballingskap gehad as wat die AB op die ou Nasionale Party gehad het.

Die Broederbond het inderdaad ’n baie verdagte geskiedenis van Afrikaner-eksklusiwiteit en betrokkenheid in rassistiese beleid, maar dit was nie, soos dikwels voorgegee word, die sinistere spinnekop in die middel van die web wat Afrikanerdom beheer en gekontroleer het nie.

Dit was wel baie invloedryk aan die kulturele front, hoofsaaklik deur sy frontorganisasie die FAK, en het ook die ekonomiese opheffing van Afrikaners bevorder.

Prof. A.N. Pelzer, die AB-geskiedskrywer, noem dit “die spil waarom alle aspekte van Afrikanerlewe gedraai het”.

Hoewel sy grondwet enige partypolitieke aktiwiteit verbied het, het die Broederbond se verbintenis tot die herstel en onderhoud van Afrikaner-volkseenheid noodwendig ’n mate van politieke betrokkenheid beteken. Ná 1948 het dit in die praktyk ’n stut vir die NP geword.

Was dit die “beheersentrum van die apartheidstelsel” soos Ntsebeza beweer? Ja en nee.

Al ses die premiers en staatspresidente van die NP sedert dr. D.F. Malan tot mnr. FW de Klerk was Broederbonders; so ook meer as twee derdes van die kabinetslede. Dit was ook duidelik dat baie sleutelposisies in die staatsdiens, Afrikaanse kerke, die regbank, universiteite en die SAUK deur Broeders beset is. Baantjies vir boeties was algemeen; dit was ’n vroeë vorm van kaderontplooiing.

Die verhouding tussen die Broederbond en die Nasionale Party-regering was simbioties, maar dit het nie beteken dat die Broeders die regering beheer het of dat individuele NP-leiers opdragte van die AB aanvaar het nie.

Om die waarheid te sê, die verhouding met die Broederbond het gewissel van leier tot leier, maar in geen geval is daar enige bewyse van “beheer” deur die AB nie.

Trouens, die bewyse suggereer dat dit eerder die NP was wat die Broederbond beheer het.

Dit was sekerlik waar terwyl mnr. John Vorster premier was.

Die rol van die Broederbond was meer subtiel: As ’n klankbord vir beoogde beleid, ’n dinkskrum waarna kwessies verwys is vir analise en ’n vroeë waarskuwingstelsel van hoe die volk sou reageer.

Hoe waardevol hierdie “koukus van intellektuele” ook al was, die finale besluit en prerogatief het altyd by die NP-leier en sy kabinet gelê.

Niks hiervan is ’n poging om die Broederbond te verdedig nie. Sy lede het ’n betreurenswaardige beleid ondersteun, het reusagtige onreg aan nie-Broers gedoen (sien ds. Nico Smith se laaste boek) en het ’n ystergreep op die Afrikaanse kerke gehad.

Hulle kon ook toornig wraak neem op dié wat hulle verloën het. Die kultus van geheimhouding het ’n mistiek om die AB laat ontstaan wat net hul invloed versterk het. Hulle het baie Afrikaners vervreem wat nooit uitgenooi is om aan te sluit nie.

Hul rekord as ’n bastion van konserwatisme het ongeskonde gebly tot die laat 1970’s en vroeë 1980’s. Onder die voorsitterskap van dr. Gerrit Viljoen en prof. Pieter de Lange het die Broederbond se gesprekke die morele en intellektuele ongemak van hul lede begin weerspieël. Dié feit blyk veral duidelik uit die dokument Draer van ’n ideaal, wat in 1997 deur die Broederbond se opvolger, die Afrikanerbond, gepubliseer is.

In wese het die Broederbond gesê die “tradisionele” vorm van apartheid en die diskriminasie wat daarmee gepaardgegaan het, was dood en dat ’n nuwe, inklusiewe stelsel onderhandel moet word.

Ntsebeza sou natuurlik sê dat hierdie gesprekke niks meer was as “neo-apartheidsdenke” nie.

Miskien was dit, maar dit het ook ’n belangrike skuif beteken, nie net in die Broederbond nie, maar ook in die NP en die breër Afrikanergemeenskap.

Sonder hierdie skuif, waarin die Broederbond ’n beduidende rol gespeel het, sou ons oorgang veel later gebeur het en baie bloediger gewees het.

Ntsebeza moet verstaan dat die oorgang nie ’n eiehandige ANC-oorwinning was nie. Dit was ’n kompromie, gebore uit die skaakmatposisie waarin Suid-Afrika hom bevind het.

Die Suid-Afrikaanse Grondwet bepaal dat “enige toepaslik gekwalifiseerde vrou of man wat ’n geskikte en gepaste persoon is” aangestel kan word as ’n regter.

’n Heksejag is nie net onbetaamlik nie, maar dit sal ook geskikte kandidate afskrik om aansoek te doen.

David Welsh is ’n historikus en skrywer van The Rise and Fall of Apartheid wat by Jonathan Ball Uitgewers verskyn het.