Selfoongebruikers het minder empatie

Dosente en studente van die bemarkingsdepartement van die Universiteit van Maryland in die VSA se sakeskool het ’n rits eksperimente op selfoongebruikers uitgevoer om hul “pro-sosiale” gedrag te toets.

Pro-sosiale gedrag word beskryf as dinge wat jy doen om ander mense of die samelewing in die breë te bevoordeel.

Hulle het bevind dat die deelnemers ná slegs ’n kort tydjie van selfoongebruik minder geneig was om ’n vrywilliger te wees in ’n gemeenskapsaktiwiteit as diegene sonder ’n sel­foon. Die selfoongebruikers was ook minder vasberade om ’n woordspeletjie te probeer oplos, selfs al het hulle geweet dat hulle só geld kan skenk aan liefdadigheid.

Dié effek was duidelik, selfs al is die selfoongebruikers net gevra om ’n prentjie van hul foon te teken of daaraan te dink.

Die navorsers bespiegel selfoongebruikers voel of hulle ’n verbintenis met ander het en só word in die basiese menslike behoefte aan gemeenskapdeelname voorsien. Selfoongebruikers vertoon dus minder “pro-sosiale” gedrag omdat hulle glo hulle het reeds ’n verbintenis met ander.