Redelike gesprek nodig oor grond

Die nasionale vraagstuk oor grondhervorming behoort nie ’n politieke speelbal te wees wat vernuftig, en soms onhandig, vir politiekery gebruik word nie.

Dis ’n komplekse brandpunt wat bly sloer en die tyd vir voete sleep is verby omdat die vraagstuk rondom die herverdeling van grond dringend is.

Die emosionele tirades het ons die afgelope 18 jaar nêrens gebring nie, buiten om wit en swart nog meer van mekaar te vervreem. Dit is tyd om aan te beweeg en ruimtes te skep vir redelike, onemosionele gesprekke wat daarop gerig is om oplossings te vind.

Pres. Jacob Zuma het Donderdag in sy repliek op die debat oor die staatsrede die regte standpunt ingeneem: Ons moet vorentoe kyk. Die regering en al die deelnemers sal moet vasstel wat grondwetlik toelaatbaar, werkbaar, regverdig en redelik is.

Dit vereis ’n delikate balanseertoertjie waar die geringste misstap onbedoelde en selfs katastrofiese nagevolge kan hê.

Watter oplossing ook al gevind word, dit moet spoedige verligting bring, want die slakkepas waarteen die grondhervormingskwessie sedert 1994 aangepak is, kan nie langer voortduur nie. Dit is sleg vir versoening en nasiebou.

Voorts het dit ’n droewige uitwerking op kommersiële boere en plaaswerkers. Die onsekerheid oor hoe die regering die kwessie wil aanpak, het belegging in die landbou aansienlik geknou.

Geen boer is bereid om infrastruktuur op eie onkoste aan te bring as hy of sy nie weet wat met die plaas gaan gebeur nie. Banke is ook versigtig om in dié onseker klimaat geld uit te leen omdat die bate (grond) waarteen geld geleen word die risiko van onteiening of ’n grondeis dra.

Talle boere het reeds tou opgegooi of hulle in buurlande gaan vestig en die plaaswerkers wat eens in hul diens was, sit vandag sonder ’n heenkome. Buiten dat grondhervorming op ’n verantwoordelike (onemosionele) manier aangepak moet word, moet dit volhoubaar wees.

Produktiewe plase kan nie soos in die verlede op onkundige opkomende boere afgepak en toegelaat word om te vergaan nie. Watter wetgewing ook al uit die groenskrif op grondhervorming spruit mag nie voedselsekerheid bedreig nie en dit kan nie produksie striem nie.

Dit beteken diegene wat by die hervormings betrokke is en daardeur geraak word, moet vertroue hê in die wetgewing en die manier waarop die regering dit in werking stel. Die departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling sal bitter vinnig bekwame personeellede moet aanstel om dié proses te stuur.

Maar die grootste werklikheid van die dag is dat die regering grondhervorming sal moet toepas in ’n ekonomiese klimaat waar elke sent twee keer omgedraai word.

Die staat kan reeds nie voorbly met die enorme vraag na huise en basiese dienste soos water, krag en sanitasie nie. Nuwe paaie, hospitale en skole moet gebou word en maatskaplike toelaes word elke jaar meer.

Daar is dus perke aan die hoeveelheid geld wat die regering kan bestee om plase van wit boere te koop.

Moeilike besluite lê voor en daar sal toegewings gemaak moet word, verkieslik met koel koppe.