Lanet Umoja, in die weste van Kenia, bestaan net uit ’n paar eenvoudige klip-pondokkies, maar dit beteken nie die mense daar is tegnologies agter die klip nie.
Hoofman Francis Kariuki gebruik die sosiale netwerk Twitter om misdaad in sy gemeenskap te bekamp.
Toe ’n plaaslike onderwyser hom onlangs 04:00 in die oggend bel met die nuus dat daar rowers in dié man se huis is, het Kariuki die gemeenskap op Twitter ontbied.
Binne minute was daar genoeg hulp om die rowers te kan verjaag.
Kariuki twiet ook gereeld oor verlore kinders en plaasdiere. “ ’n Bruin-en-wit skaap met ’n nylontou om sy nek is verlore. Dit behoort aan Mwangi se pa,” het hy onlangs in Swahili getwiet. Die dier is gou opgespoor. Kariuki sê selfs diewe volg hom op Twitter. Onlangs het hy getwiet oor die diefstal van ’n koei. Kort daarna is die dier gekry waar die diewe haar aan ’n paal vasgemaak het. – Sapa-AP