dia’kenlekker s.nw. Skertsende benaming vir ’n klein, tabletvormige, sterk geparfumeerde lekkergoedsoort, dikwels in die mond gehou om ’n aangename geur aan die asem te gee: As die diaken miskien ’n sopie gebruik het en bang is dat die dominee dit sal agterkom, dan eet hy maar ’n diakenlekkertjie (Die Voorligter•. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (Hoofred: F.J. Snijman.)Die spertyd vir die borg van woorde in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal(WAT) kom nader. (Sien hul webblad, www.wat.co.za, as jy ook wil deelneem.)
Om ’n inventaris op te stel van Afrikaans se magdom ou en nuwe woorde moet stellig van die interessantste werk ooit wees.
Kyk byvoorbeeld: Op Facebook skryf Ellen Botha nou die dag van diakenpilletjies, of diakenlekkers, daai klein pienk poeierige lekkergoed wat mens veral in die ou dae op die platteland kon kry.
Jy kon vir twee sent of minder ’n hele bruin kardoessak vol nammies koop en sommer ook ’n handvol van daai hartvormige soenlekkers of namelekkers as pasella bykry. In Engels was laasgenoemde as Conversation Hearts bekend en hulle was gewoonlik in enige dorp wat sy naam werd was se koöperasie volop verkrygbaar in psigedeliese ligblou, babapienk, pers, groen en geel.
Van die boodskappe op dié guitige liefdeslekkers het gelees: “Hug Me”, “Love You”, “True Love”, “All Mine”, “Miss You”, en so aan.
Ai, hoe het die kalwerliefde nie geblom met dáárdie soetgoed nie. Al was jou sakgeld maar ’n handvol sente, het dit ’n skatryk lewe vol jong romanse ingesluit.
So was daar ’n jong meisie genaamd Gesie van ’n klein dorpie wat eendag van haar beminde so ’n sak vol lekkertjies as afskeidsgeskenk gekry het. Hy was op pad grens toe destyds tydens die Bosoorlog en het haar gevra om vir hom elke week een lekker te pos, elk met sy eie boodskap.
Dit sou hom aan haar herinner, die reuk van die lekkers, die boodskap, iedereen ’n verrassing. Elke week het Gesie die lekker mooi toegedraai in watte, versigtig. Dan het sy dit in ’n opgestopte koevert gesit, met ’n briefie. Die brief is gepos, so met die lekkertjie se reuk vasgevang in die koevert.
Maar eendag het die koevert teruggekom met die boodskap: “Return to Sender”.
Sy het nooit weer van hom gehoor nie, maar die storie onder die ou mense van die dorp is dat toe sy haar eie lewe geneem het, hulle ’n sak vol van die soenlekkers langs haar liggaam gekry het. Herman Lategan.