Proses om Div aante stel was vol politiek

Prof. Julian Smith het verlede week in sy artikel in Rapport ’n dapper poging aangewend om die rugbypubliek te oortuig dat die proses wat gelei het tot die aanstelling van Peter de Villiers die goudstandaard behoort te wees waaraan soortgelyke aanstellings gemeet moet word.

Net jammer hy het nie die geleentheid gebruik om baie van die onbeantwoorde vrae oor hierdie “omvangryke en deeglike” proses waarvan hy intieme kennis dra vir ons op te klaar nie.

Enigiemand wat probeer argumenteer dat De Villiers se kwalifikasies as afrigter in 2007 gunstig teen Heyneke Meyer s’n opgeweeg het, is óf moedswillig óf weet niks van rugby nie. So waarom was De Villiers se aansoek suksesvol?

Ek het die laaste paar jaar pogings aangewend om agter die kap van die byl te kom. Een ding is duidelik: Die druk op Julian Smith en ander komiteelede om De Villiers te benoem, was baie groot. Ek sal so ver gaan om te sê dat van hulle die proses met vooroordele benader het.

Smith maak melding van psigometriese toetse, die ontleding van wedstryd-videogrepe, lang en deeglike onderhoude, formele aanbiedings en ure lange intense besprekings.

Dié proses het egter die belangrikste kwalifikasie vir ’n nasionale afrigter omseil: sy welslae en gepaardgaande ervaring.

Destyds was De Villiers se beste prestasies as afrigter ’n o.21­wêreldtitel in 2005 en die Opkomende Springbokke wat die IRR se Nasiesbeker-toernooi gewen het met seges oor Roemenië, Argentinië A en Georgië. Daarenteen kon Meyer vier Curriebekers en ’n Super 14-trofee inpalm.

Die logiese vraag is dus: Tot hoe ’n mate het politiek ’n rol in De Villiers se aanstelling gespeel? Kom ons kyk na die feite, sover ’n mens dit kan vasstel.

’n Paneel, met die destydse Leeus-president Jannie Ferreira as voorsitter, moes aan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se presidentsraad ’n kandidaat aanbeveel.

Die ander lede van die paneel was Smith, Mike Stofile (destyds Saru se adjunkpresident), James Stoffberg (destyds Luiperds-president), Brian van Zyl (uitvoerende hoof van die Sharks), Jonathan Stones (destyds besturende direkteur van SA Rugby), Johan Prinsloo (destyds Saru se uitvoerende hoof), Mpumelelo Tshume (destyds voorsitter van SA Rugby se direksie), Elna van Niekerk (’n menslikehulpbronne-kenner) en die oud-Springbok-heelagter Dawie Snyman.

Hou in gedagte dat Stofile die broer is van die destydse ANC- minister van sport, Makhenkesi Stofile, in ’n tyd toe Saru onder yslike politieke druk van veral die parlementêre portefeuljekomitee oor sport was.

De Villiers het sy seile vir politici gespan. Hy is in Junie 2007 in publikasies van Independent Newspapers aangehaal dat Luke Wat­son die eerste naam op sy spanlys sou wees. Die berig maak ook melding daarvan dat De Villiers bereid sou wees om ’n kwota van tien gekleurde spelers in ’n Bok-span na te kom.

By nabetragting is dit vir my duidelik dat die plan met De Villiers se aanstelling deel was van ’n groter prentjie om rugby te “transformeer”, met Mike Stofile as Saru-president, De Villiers as afrigter, Luke Watson as kaptein en, les bes, die verwydering van die Springbok-embleem.

Stofile het kort ná De Villiers se aanstelling die Saru-presidentskap teen Oregan Hoskins verloor. Die aanslag op die embleem het in 2008 op ’n sinvolle kompromie uitgeloop: Om Suid-Afrika se nasionale embleem te gebruik en die Springbok na die ander kant van die trui te skuif.

Luke se pa, Cheeky Watson, was ten tyde van die proses om ’n opvolger vir Jake White aan te wys ’n vurige kampvegter vir De Villiers. Soos Smith, Stofile en Tshume was Watson aan die destydse nierassige Saru verbonde. De ­Villiers het self ook onder dié vaandel gespeel.

Dis ook nie asof De Villiers ’n swak kandidaat was nie. Ten tyde van sy aanstelling het sy afrigtingsrekord gunstig met dié van White op die soortgelyke tydstip in sy loopbaan vergelyk. Dit was dus relatief maklik om op die sentiment te speel dat die tyd ryp was vir ’n bruin afrigter.

Uiteindelik het die proses in De Villiers se guns geswaai (ná onder meer vurige pleidooie deur Stofile) en die komitee het sy naam aan Saru se presidentsraad voorgelê. Dáár het De Villiers ná vurige debat naelskraap met tien stemme teenoor Meyer se nege geseëvier.

De Villiers het egter gou sy rug gedraai op die politieke “invloede” wat sy toutjies wou trek.

Hy het waarskynlik gou besef dat ’n plan met Watson aan die spits van ’n getransformeerde Bok-span onuitvoerbaar was.

Intussen het sy gebrek aan ervaring in die kollig gemanifesteer in onoordeelkundige uitsprake.

’n Voorbeeld was sy ondeurdagte uitlating dat hy lus is om die pos “aan die wittes” terug te gee. Dis minder ernstig opgeneem as wat dit moes gewees het, want De Villiers was teen daardie tyd ’n slagoffer van ’n afgryslike voorbeeld van rugbypolitiek met gerugte van ’n “seksvideo”.

John Smit is tussendeur alles weer as Bok-kaptein aangestel en De Villiers het ironies genoeg meer as enigiemand anders gedoen om die status quo (soos Smith daarna verwys) te handhaaf. Dis eintlik ironies dat dinge só uitgedraai het ná al die pogings tot manipulasie en die laai van die proses teen Meyer.

Op rugbyvlak verdien De Villiers tog baie krediet vir Suid-Afrika se reekssege oor die Britse en Ierse Leeus en die Drienasies-triomf in 2009. Soms word onregverdiglik gesê dat hy net met White se span voortgeboer het.

In daardie geval moet ons vra waar White sý span gekry het. Fourie du Preez, Victor Matfield, Bakkies Botha en Bryan Habana was almal sleutelspelers in 2007 se Wêreldbeker-toernooi en óók in De Villiers se puik jaar in 2009. Morné Steyn is deur De Villiers bygevoeg, maar ook hy het deur die Bulls se strukture gevorder.

Dit is dus duidelik: Die goue draadjie deur Suid-Afrika se welslae in 2007 en 2009 loop al die pad terug na Loftus Versfeld en Heyneke Meyer.

So waarom dan dié verdagmakery van sy aanstelling?

De Villiers verdien teen dié tyd ons agting, maar so ook verdien Meyer ons ondersteuning.Stephen Nell is ’n senior rugby­skrywer by Sport24.

Julian Smith se siening dat ’n “beter ­proses” gevolg is met Peter de Villiers se aanstelling as Bok-afrigter as dié van Heyneke ­Meyer laat meer vrae as antwoorde, skryf Stephen Nell.