Apteek veel meer as winskopie

Ek het die laaste tyd baie, en dikwels negatief, geskryf oor klein maatskappye, maar vandag wil ek praat oor ’n klein onderneming wat nie net ’n reusesukses is nie, maar al langer as 30 jaar ’n positiewe verskil in my, en ek vermoed baie ander Melvilliete, se lewe maak: Mays Chemists.

In Desember 1980 het ek die eerste keer by Mays ingestap met ’n verkoue wat ek opgedoen het omdat ek droë klere oor ’n nat swembroek aangetrek het. ’n Vriendelike jong vrou met ’n Duitse aksent genaamd Elfie Weitzmann het my gehelp.

’n Paar weke gelede was ek die soveelste keer by die einste Mays, ek kan nie eens onthou waarvoor nie, en met dieselfde geduld, vriendelikheid en deernis het dieselfde Elfie my gehelp.

Trouens, ek dink in my onderbewussyn is Elfie se naam en gesig sinoniem met ’n beker warm melk en heuning, iets wat vir jou sê: Moenie bekommerd wees nie, alles gaan oukei wees.

By Mays is dié soort sorgsaamheid nie beperk tot Weitzmann nie.

Helen Miljo, senior apteker, en Cobus Botma, eienaar en bestuurder, is eweneens altyd byderhand met ’n opregte glimlag en deernisvolle diens. En kom jy voor by die toonbank kan jy maar weet daar wag ’n ondeunde glimlag van Dorothy van Schalkwyk – wat onlangs moes aftree weens swak gesondheid – en ’n opgewekte woord van Betts Tweed, wat op 84 volstrek weier om af te tree.

Die ding, nee, één van die dinge van Mays is sy standvastigheid; die feit dat mens weet die personeel is daar vir jou deur dik en dun. In 1980 was dit my simpel verkoue. Sedertdien, oor die afgelope meer as 30 jaar, was dit my drie “sarsies” griep per jaar, gewoonlik afgesluit met ’n aanval brongitis. Nege jaar gelede was dit my oggendsiekte, sooibrand en asma tydens my swangerskap. Sedertdien was dit enigiets van my seun se borsinfeksies en maagpyn tot nerfaf- knieë. En elke dan en wan is dit die gewik en geweeg of mens die handelsmerkproduk moet kies of die veel goedkoper generiese ekwivalent. Sonder uitsondering was Mays, in die woorde van die immergroen Simon & Garfunkel, “a bridge over troubled water”.

Afgesien van die personeel se agter-die-toonbank-vernuf en toewyding bied hulle boonop ’n heeltydse kliniek waarheen mens kan gaan vir onder meer cholesterol- en bloedsuikertoetse en griepinspuitings in die winter, asook ’n babakliniek wat al hoe gewilder word. Les bes is Mays se afleweringsmotorfietse ’n bekende gesig vir enigiemand wat so lank soos die uwe in Melville en omgewing bly; ’n gratis diens wat van 08:00 tot 20:30 beskikbaar is.

Ek weet ons lewe in ’n era van Dis-Chem en Clicks, waar jy benewens jou voorskrif of oor-die-toonbank-medikasie ook lekker goedkoop lipstiffie, reusebottels badsout en nog allerlei onnodighede kan ryker word.

En terwyl ek nog altyd net goeie diens by dié twee winkelgroepe gekry het, om van wakker winskopies nie te praat nie, kom niks naby die opregte, persoonlike aandag wat ek by Mays kry nie.

Daarvoor is ek bereid om ’n paar koop-een-kry-een-gratis-bottels lyfroom prys te gee, veral as ek by die toonbank vir 80c ’n sakkie blou-tong-suursuiker vir my kind kan koop!