Halfgebak en te veel blaaie

So lig soos klip deur Jacques Pretorius. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R180

So lig soos klip gaan oor ’n seun van Vrededorp (Fietas) in Johannesburg wat in die 1970’s deur sy ouers afgeknou word en in die 1980’s deur die staat, die polisie en godsdiens as kanonvoer teen die Swart en Rooi Gevare gebruik word.

Die verteller sê: “Daar is vir hulle gelees en gebid, en die res van die dag is hulle opgefok en uitgekak.”

Dit laat my onwillekeurig aan Philip Larkin se gedig “This Be The Verse” dink: “They fuck you up, your mum and dad.”

Die kind, deurgaans naamloos, is ’n goeie mens, gebore in onskuld en so, maar die skuldgevoelens van godsdiens en die militarisme, waar die doel die middele heilig, maak hom ’n emosionele slagveld.

Die titel verwys na die siel wat uit die konkrete – en concrete soos in beton – wil opstyg, asook na die klip wat ons eendag ses voet bokant ons koppe gaan hê.

Dis ’n her-stelling van The Unbearable Lightness of Being, maar dit verwys ook na die energie wat, volgens kwantumfisika, selfs in ’n klip verskuil is.

Ná ’n versameling van kindertyd-sketse in die gopse (Tant Stienie-styl met baie name-dropping van handelsmerke: Jungle Oats, Wilson-toffies, Scope, zamalek, die TV-reeks Sol en Gobelet, Iron Maiden), afgewissel met sy opleiding in Pretoria as ’n polisieman, word hy ’n Boereman: een wat aanhou droom van als wat hy kon vermag het . . . as hy maar net liefde gehad het. (Weer Larkin: “Nothing cures that.”)

Hy, en die land, bereik nooit volwassenheid nie; eerder arres-ted development, ’n doodloopstraat met net een moontlike uiteinde.

Dis ’n bildungsroman, maar onvoltooid; die storie van ’n kuiken wat sy dop oopbreek, maar niks verder vorder nie. Man, Interrupted.

Die boek ly aan literêre pretensies. Wat eintlik ’n respektabele en straightforward storie moes wees, word bederf deur tandknersende melodrama, wat die leser óf koud laat óf laat gril van oordadigheid: “. . . die rou etter van die mens se geskiedenis, van dit wat ons al eeue gelede was en dit wat ons intussen geword het.”

Die struktuur is goed. Die storie gaan volsirkel, maar dit moes ’n kortverhaal gewees het.

Daar’s geen handelinge in die eerste helfte nie, geen “agentskap” nie. Karaktereienskappe word verduidelik.

Karakteropenbarende handelings – wat ons op skool moes staaf met voorbeelde van, wel, handelings – word hier eenvoudig aan die leser vertel: “Soos op skool sien niemand hom raak nie.” “Ek wou my werklikheid en myself herontwerp.” “Nou is hy ’n slag aan die ander kant wanneer geboelie word.”

Kruisverwysings vorm deel van die stelinkleding, soos plakkate teen ’n muur, sonder om ooit groter te wees as die som van die onderdele.

Sprankelende frases, die oorspronklike turn of phrase wat boeke vermaaklik maak, ontbreek. Dit maak dit harde werk om die boek te lees.

Elmore Leonard, die Amerikaanse skrywer, se raad lui dat jy die stukke moet uitlos wat jou leser gaan wil oorslaan. Ek sou graag die eerste helfte van So lig soos klip wou oorslaan.

Die verweefde vertellings is ook onnodig obskuur: As die skrywer iets weet, moet hy dit deel, anders word hy ’n vermoeiende sirkusbaas wat wil hê dat ek deur hoepels moet spring.

Om die verlede tyd te gebruik in Afrikaans moet jy ’n goeie rede hê. In dié boek word daar rondgespring tussen die verlede tyd en historiese teenwoordige tyd (gewone verteltyd).

Soms werk dit, ’n effek soos ’n kamera wat inzoem, maar die meeste van die tyd hou dit jou op armlengte van die aksie. Dit voel in die verledetydvertellings asof ’n vervelige, voorafbepaalde uitkoms aan jou verduidelik word. Waar die aksie “teenwoordig” beskryf word (meestal in die Sharpeville-onluste-deel van die boek), word dit ’n lekker aksiefliek wat jou uitasem laat. Maar dis te min, te laat.

Die verlede tyd, en die sketse van die eerste deel, laat dit soos memoires voel. As jy dink jy het dieselfde ervarings gehad: geboelie deur jou ouers, die staat, die Kerk, die weermag, dan sal jy dalk aanklank vind.

Aan die ander kant, as jy al voorheen met hierdie kwessies geworstel het, sal die boek vir jou naïef voorkom. Mense was al voorheen kru, sexy én godslasterlik in Afrikaans.

Dis moontlik meer fassinerend en leersaam om te kyk wat Pretorius plek-plek goed gedoen het. Dis nie ’n onleesbare boek nie, maar in die par-lance van ons tyd: Jy gaan die politieke wil moet bymekaarskraap.Marius Visser is ’n redaksielid van Media24.