Het die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) met politieke speletjies sy vingers verbrand?
Die onwrikbare en dreigende posisie wat die land se vyf Superspanne inneem oor hul voortgesette deelname aan die Suidelike Halfrond se Superrugby-reeks in 2013 wil dit so laat lyk.
Die “Groot Vyf” is onversetlik dat hulle as hul eie identiteite in aanstaande jaar se reeks sal speel. Dit wil sê as die Bulls, die Stormers, die Sharks, die Cheetahs en die Lions, en nie as ’n konkoksie waar twee van hulle amalgameer om een streekspan te vorm nie.
Die druk van politici en invloedryke rugbylui in die Oos-Kaap om dié streek gelyke status aan die Groot Vyf te gee met deelname aan die Superrugby-reeks kom al ’n lang pad. Daarvoor is Saru se beamptes al verskeie kere ontbied om voor die parlementêre komitee oor sport te verskyn, met uittrapsessies wat dan gevolg het. Daar was ook dreigende hofsake, prosesse en beloftes.
Onlangs het die land se 14 rugbyunies die Oos-Kaap (Kings) as ’n Superrugby-streek bekragtig. Soos een rugbyadministrateur die besluit ná die tyd bestempel het: Dit was ’n emosionele besluit. Een wat die politici ter wille is.
Saru het ’n streek sonder top-spelers, sonder veel geld en van ongetoetste gehalte sy een Super-span vir 2013 gemaak. Die Groot Vyf moet sien en kom klaar om nou die Groot Vier te word.
Hoop dat die Super-kompetisie deur die beheerliggaam Sanzar vergroot sal word om al ses Suid-Afrikaanse spanne in te sluit, is wensdenkery. So wat nou, Saru?
Het Saru só verbrou?
Is kapitalisme dood. Die debat wat die week by die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos gevoer is, en wat ook dikwels in die media voorkom, is uiters belangrik - veral in Suid-Afrika, waar die debat oor nasionalisering steeds nie wil gaan lê nie.
Die yslike mislukking van kommunisme, asook die ewe groot mislukkings van nywerhede wat wêreldwyd genasionaliseer is, is nog vars in die geheue - en laat die vraag onstaan waarom die debat weer opvlam.
Daar het egter die afgelope klompie jare in lande soos China en Rusland ‘n nuwe ekonomiese model ontwikkel, waar talle suksesvolle staatskorporasies (dikwels in vennootskap met die private sektor) ‘n groot rol in die ekonomie speel.
Maatskappye waarin die staat ‘n belang het, maak 80% van China se aandelebeurs uit en 62% van Rusland s’n.
Nou is die vraag waarom kan die staat nie ‘n groter rol in die ekonomie speel, en minstens toesien dat die winste wat gegenereer word, tot voordeel van die bevolking aangewend word pleks daarvan om ‘n klompie superrykes nog meer ryk te maak.
Dit is egter te gou om kapitalisme se begrafnis te hou, en die nuwe model as norm te aanvaar.
So ‘n nuwe stelsel kan net werk as daar ‘n doeltreffende regering aan bewind is en die betrokke land ‘n gesonde werketiek het.
In Suid-Afrika, die paradys van korrupsie, ondoeltreffendheid en onwerkbare politieke ideologië gaan dit op ‘n grootskaalse ramp afstuur. In China word korrupte amptenare tereggestel.
Kapitalisme het seker sy foute, en 2008 se finansiële krisis is ‘n bewys daarvan, toe bankbase se gierigheid toegelaat is om die oorhand te kry..
Die jongste krisis is egter nie kapitalisme se skuld nie, maar eerder die van politici wat nie besteding in toom kan hou.
Op die lange duur is dit steeds die private sektor wat die meeste welvaart en werk skep. En vir Suid-Afrika lê die antwoord daarin om die sakesektor toe te laat om juis dit te doen, sonder om hulle met rigiede arbeidswette, onhaalbare bemagtigingsvereistes, oormatighe belasting en swak dienslewering aan bande te lê.