ANDER SÊ
Pres. Jacob Zuma se onlangse verklaring in ’n koerantonderhoud dat daar ’n behoefte is om die Grondwet te “hersien” kom soos ’n donderslag, skryf die Ikey-regsprofessor Hugh Corder Woensdag in Business Day.
Zuma stel dit baie ondubbelsinnig: “Ons wil nie die konstitusionele hof hersien nie; ons wil sy magte hersien. Dit is ons ondervinding dat sommige besluite (van die hof) nie besluite is waarmee alle regters in die hof saamstem nie.”
Die uitspraak is inderdaad skokkend en ’n mens kan nie help om te sê nie: Waarom is dit nodig?
Ja, daar mag uitsprake wees wat die uitvoerende gesag irriteer, maar dit is die prys wat ons betaal vir onafhanklike en onpartydige howe.
Daar moet tog ’n finale arbiter wees van die regsgeldigheid van kabinetsbesluite en as die hoogste hof nie daaroor kan besluit nie, wat is die alternatief?
Is dit inderdaad, soos die voormalige hoofregter Arthur Chaskalson onlangs gesê het, dat ons moet terugkeer na ’n stelsel van parlementêre soewereiniteit?
Wie sal ons dan beskerm teen onbelemmerde mag?
Natuurlik het die presidensie reeds begin probeer om ons begrip van Zuma se woorde te poets.
Ons moet blykbaar sy opmerkings lees in die gees van ’n kabinetsbesluit om die “transformatiewe aard van regsbesluite te ondersoek” en dis nie ’n poging om die onafhanklikheid van die regbank aan te tas nie. Regtig?