Vida Booysen
Bloemfontein. – ’n Paneelonderhoud is dikwels die laaste hekkie waaroor ’n kandidaat vir ’n toppos moet spring.
Hoewel dit kan voel asof jy die prooi in die haaitenk geword het, kan iemand wat goed voorbereid is en die situasie met selfvertroue benader, juis die kans benut om ’n goeie indruk te maak, sê me. Sandra Burmeister, uitvoerende hoof van die Landelahni-werwingsgroep.
“Jy het waarskynlik reeds ’n onderhoud met die mensehulpbronbestuurder gehad of selfs met die uitvoerende hoof van die maatskappy. Nou is ’n breër groep uitvoerende bestuurders gretig om uit te vind wat jou motiveer en of jy reg is vir die pos,” sê Burmeister.
’n Paneelonderhoud word ook beskou as meer tyddoeltreffend omdat al die besluitnemers uit verskillende afdelings die kandidaat tegelykertyd kan beoordeel. Dit word ook as meer regverdig gesien omdat verskillende mense se indrukke in oorweging geneem word.
Een van die belangrikste redes vir ’n paneelonderhoud is egter om te bepaal hoe goed die kandidaat in ’n stresvolle situasie presteer en hoe goed hy of sy met ’n diverse groep mense kan kommunikeer.
Burmeister gee vyf wenke om dié soort onderhoud minder senutergend te maak:
1. Wees goed voorbereid
Doen jou navorsing. Vind vooraf alles oor die maatskappy uit wat jy moontlik kan.
Wat is sy sakemodel, filosofie en hoe lyk sy kliënte?
“Dis nie genoeg om net die maatskappy se webtuiste te bestudeer nie, lees ook alles wat in aanlyn sakepublikasies daaroor geskryf word,” sê Burmeister.
Dit is ook ’n goeie idee om die maatskappy se profiel op sosiale netwerke soos Facebook en LinkedIn na te gaan.
Probeer om vooraf uit te vind wie die lede van die paneel gaan wees, en memoriseer hul name en verantwoordelikhede.
“Dit stel jou in staat om elkeen op die naam aan te spreek en sal jou dalk ’n insig gee in die soort vrae wat die persoon moontlik kan stel.”
Hou vooraf ’n kamma-paneelonderhoud met ’n paar vriende in soortgelyke poste en, as dit moontlik is, maak ’n video van die sessie sodat jy kan sien hoe lyk jou lyftaal en kommunikasiestyl.
Selfs as die werwingsagentskap sê dis nie nodig nie, bring genoeg afskrifte van jou CV saam en, indien van toepassing vir byvoorbeeld ’n pos in bemarking, jou portefeulje.
Dis ’n goeie manier om onderhoudvoerders met jou bekwaamheid te beïndruk.
2. Goed begin is half gewin
Om te lyk asof jy in die pos hoort, is deurslaggewend, sê Burmeister.
“Trek professioneel aan, eerder in ’n onderbeklemtoonde styl, tensy jy om ’n pos by ’n advertensie-agentskap aansoek doen.”
Neem ’n paar diep asemteue en stap die onderhoudkamer binne met energie en entoesiasme.
’n Oop, tegemoetkomende uitdrukking en positiewe houding is belangrik.
Die paneel sal binne sekondes hul eerste indrukke van jou vorm en sulke indrukke is geneig om blywend te wees. Toon met jou positiewe energie dat jy gereed is om die uitdagings aan te pak.
Indien moontlik, groet elke lid van die paneel met ’n ferm handdruk, glimlag en maak oogkontak.
Gedurende die onderhoud moet jy ook probeer om met elke lid van die paneel oogkontak te maak.
Moenie na ’n kol op die muur kyk of bokant die mense se koppe nie.
Beantwoord vrae deur die persoon wat die vraag gestel het direk aan te spreek en waar moontlik sy naam te gebruik. Praat duidelik en beantwoord vrae ten volle. Moenie net “ja” of “nee” sê nie.
3. Die feite moet op jou vingerpunte wees
Sorg dat jy alle aspekte van jou CV en portefeulje byderhand het, sodat jy vinnig na besonderhede kan verwys, ongeag wat gevra word.
Dink vooraf deeglik oor aspekte wat miskien nie duidelik in jou CV uiteengesit is nie. Jy kan moontlik gevra word om voorbeelde te verskaf van hoe jy in sekere situasies opgetree het en hoe jy projekte of krisisse gehanteer het.
“ ’n Paneelonderhoud is dikwels ’n aanduiding dat die organisasie se kultuur een van spanwerk is. Noem dus voorbeelde van jou sukses as ’n spanlid of -leier,” sê Burmeister. Wees voorbereid om vrae oor jou swakhede en sterk punte te beantwoord en verskaf voorbeelde waar jy ondanks probleme ’n positiewe resultaat verkry het.
“As jy nie weet hoe om op ’n vraag te reageer nie, neem ’n oomblik om jou gedagtes agtermekaar te kry sodat jy nie met ’n onvanpaste antwoord wegspring nie of verbouereerd klink nie.”4. Sleutelvrae om te stel
Wees gereed met twee of drie vrae oor die maatskappy en die pos. Dit sal help om onderhoudvoerders te oortuig dat jy werklik belang stel in die pos en hulle help besluit of dit die gepaste een vir jou is. Stel vrae oor die posverantwoordelikhede of die maatskappy se groeiplan. Vind uit hoe jou prestasie beoordeel sal word en hoe dikwels dit gedoen word.
5. Eindig op ’n positiewe noot
’n Besliste einde aan die onderhoud is belangrik; dit moenie net uitrafel nie. Die laaste indrukke is ook blywend. Indien moontlik, gee elke paneellid ’n handdruk en bedank elkeen persoonlik vir sy of haar tyd.