Vra maar net wil weet:Ek werk vir ’n maatskappy wat dienste aan ’n kliënt op kontrakgrondslag lewer. Hulle het nou die kontrak verloor en van 1 April 2012 word die diens deur ’n ander maatskappy oorgeneem.
Al die werknemers het afdankingsbriewe van eersgenoemde maatskappy ontvang waarin ons in kennis gestel word dat ons dienste op 31 Maart 2012 beëindig word. Die nuwe maatskappy neem egter al die werknemers oor en ons aanvaar diens op 1 April 2012.
Ons huidige maatskappy sal ons verlofgeld uitbetaal, asook ons voorsorgfonds oordra of uitbetaal.
Volgens mensehulpbronne word ons nie skeidingsgeld betaal nie.
Hulle beweer dit is net in geval van personeelvermindering (retrenchment• betaalbaar, maar dit is tog presies wat hulle met ons gedoen het. Hulle het ons afgedank, want ons werk van 1 April nie meer vir hulle nie.
Is skeidingsgeld wel betaalbaar aangesien hulle ons diens beëindig het? Baie van ons werk reeds jare by hierdie maatskappy.
Is die voorgeskrewe skeidingsloon steeds een week se besoldiging vir elke jaar aaneenlopende diens?
Antwoord:
Art. 41(4) van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes bepaal: “ ’n Werknemer wat onredelikerwys weier om die werkgewer se aanbod van alternatiewe diens by daardie werkgewer of ’n ander werkgewer te aanvaar, is nie op ’n skeidingsloon . . . geregtig nie”.
Julle het almal ander werk gekry – of dit nou met of sonder die hulp van jul huidige werkgewer is. Derhalwe is dit nie nodig dat skeidingsgeld aan julle betaal word nie.
Die voorgeskrewe minimum skeidingsloon is steeds een week se besoldiging vir elke jaar aaneenlopende diens.