Werkgewer moet billik optree en beraadslaag

Hoopvol skryf:

Ek werk al vir byna 10 jaar in ’n winkel. Ons is 10 personeellede.

Gedurende November 2011 het al die personeellede ’n brief van die eienaar ontvang waarin hy ons meedeel dat dit sleg gaan met die onderneming en dat hy sukkel om finansieel kop bo water te hou. Dit is gevolglik noodsaaklik dat die salarisse van al die personeellede verlaag moet word. Dan is elkeen se nuwe verminderde salaris in sy brief genoem. Dit is glo die enigste manier waarop hy kan verhoed dat enige personeellid sy werk verloor.

Kan u uitsluitsel oor dié vrae gee:

V Is die optrede deur die werkgewer regverdig?

V Tree hy binne die arbeidswet korrek op?

V Kan daar kennis gegee word van salarisvermindering in dieselfde maand sonder billike vooraf kennisgewing?

Die personeel behoort nie aan ’n vakbond wat die aangeleentheid sou kon hanteer nie.

Antwoord:

Ek het ’n soortgelyke vraag soos volg beantwoord in my boek Die Dienskontrak, (Bactas Personeelkonsultante, 1999), pp. 19-20:

Salaris is een van die mees “sensitiewe” en moeilikste diensvoorwaardes om te verander.

Die salaris vorm die hart van die dienskontrak en kan nie maklik afwaarts aangepas word nie.

Dit kan egter gebeur dat weens bedryfsredes, die werkgewer nie in staat is om ’n werknemer langer op sy huidige salarisvlak te bly betaal nie. In so ’n geval moet die probleem met die werknemer bespreek word, vir hom die redes aangedui word waarom sy salaris verminder moet word en moet hy oorreed word om dit te aanvaar.

Die sleutel-oorweging hier is die rede waarom die salaris verminder moet word.

Die mees aanvaarbare rede is dat die werknemer se salaris op die huidige vlak nie meer bekostig kan word nie. Dit sal natuurlik bewys moet kan word. Ook sal die werkgewer redes moet verstrek waarom die verlaging reeds op ’n sekere datum moet intree en nie later nie.

Sou die werknemer weier om die salarisvermindering te aanvaar, is die enigste uitweg om sy diens te beëindig op grond van geldige bedryfsredes, naamlik dat die werkgewer nie kan bekostig om sy salaris op die huidige vlak te bly betaal nie. In dié geval moet personeelvermindering toegepas word ooreenkomstig riglyne soos voorgeskryf deur art. 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge.

Wat die antwoord op jou vrae betref, die volgende:

Of die werkgewer se optrede regverdig was of nie, is my afleiding dat hy regverdig opgetree het deur al die werknemers oor een kam te skeer. Hy het niemand uitgesonder nie.

Of hy almal se salarisse ewe veel verminder het, weet ek natuurlik nie. Om aan julle minder as een maand kennis te gee van die salarisvermindering, kom minder regverdig voor maar ’n mens weet nooit hoe ernstig die finansiële probleme van die onderneming was nie en of hy ’n langer kennistydperk sou kon bekostig nie.

Indien hy elkeen van julle behoorlik geraadpleeg het en die ware redes verskaf het waarom hy julle salarisse nie meer kan bekostig nie, tree hy wel binne die wet op.