Voordele verloor omdat sy onttrek

Verontreg skryf:

My wederhelf het sowat vyf jaar in ’n vakkundige hoedanigheid by ’n organisasie gewerk. Sy het sowat drie jaar gelede gedwonge gevoel om te bedank. As rede het sy “konstruktiewe ontslag” aangevoer.

Sy het vervolgens ’n dispuut by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) aanhangig gemaak.

Die verteenwoordigers van die organisasie het by die KVBA toegegee dat sy rede daarvoor gehad het, daar is op vergoeding ooreengekom en dit is dit ’n bevel van die KVBA gemaak.

Die organisasie het egter geweier om te betaal. Hulle het aangevoer dat ons hulle verteenwoordigers by die KVBA “geboelie” het; dat die kommissaris sy plig versuim het; en die aangeleentheid is na die arbeidshof verwys vir hersiening.

Ná maande van stilswye en omdat dit nie kostedoeltreffend sou wees nie, het sy die saak laat vaar. Sy wou ook nie weer deur die emosionele trauma gaan nie.

My vrou het ook aansoek gedoen om werkloosheidsvoordele maar dit is afgekeur omdat sy “bedank” het.

Sy het die tersaaklike dokumentasie aangestuur maar dit is steeds afgekeur. Sy het appèl aangeteken maar sy het nog niks gehoor nie.

My vrae is die volgende:

V Het ons korrek opgetree deur die saak te laat vaar?

V Is sy steeds geregtig op werkloosheidsvoordele? Sy werk nie meer nie.

Antwoord:

Dit is jammer dat julle die saak laat vaar het. Nou het julle die verdere regsoptrede-opsies, ook genoem “remedies”, uitgesluit.

Indien ’n werknemer van sy/haar werk bedank, dan verbeur die persoon alle werkloosheidsvoordele. Die enigste uitsondering is wanneer die persoon bedank op grond van konstruktiewe ontslag.

Jou vrou het wel op grond van konstruktiewe ontslag bedank en die KVBA het haar gelyk gegee, maar ongelukkig het sy haar regsposisie verbeur toe sy haar onttrek het nadat die uitspraak op hersiening na die arbeidshof verwys is. Sy is dus nie verder geregtig op werkloosheidsvoordele nie.