Koop-en-verkoop gaan nie net om polisse

Ek het die afgelope week heelwat vrae ontvang oor koop-en-verkoopooreenkomste en lewensdekking.

Die eerste belangrike punt is dat ’n koop-en-verkoopooreenkoms nie in die eerste plek gaan om die koop van polisse nie. Wat dan?

’n Koop-en-verkoopkontrak word tussen twee of meer vennote opgestel en daarin word ooreengekom dat by die een of ander gebeurtenis, gewoonlik sterfte, die een die ander se aandeel in ’n gesamentlike onderneming sal uitkoop. Dis eintlik maar al.

Daar is ’n goeie rede waarom sodanige ooreenkomste met die versekeringsbedryf verstrengel geraak het. Finansiële beplanners en makelaars bemark die nut van versekering met die gretige hulp van versekeraars deur sodanige kontrakte “gratis” op te stel – alles om meer polisse te kan verkoop.

Hopelik sal dié praktyk, saam met ander “gratis” regsadvies – wat ek as ’n konflik van belange beskou – binnekort gestaak word, maar dit eers daar gelaat.

Die punt is, ’n koop-en-verkoopkontrak is iets anders as versekering koop. Dié ooreenkoms reël die oordrag van jou belang in die onderneming by jou sterfte aan jou vennoot. Dit voorkom dat jou erfgename (die belang is ’n bate in jou boedel en dus vererfbaar) jou vennoot se mede-aandeelhouers word, terwyl hulle self dalk nie daar wil wees nie en dalk nie ’n benul het waaroor dit in die saak gaan nie.

’n Goeie koop-en-verkoopooreenkoms maak die koop van die belang by dood ’n verpligting. Ek sien soms dat die oorlewende die aandeel kán koop. Dis bog. Maak dit verpligtend, dan weet elkeen waar hy staan. Hoe reël jy jou boedelsake as jy nie weet wat jy het om te verdeel nie?

Maak die prys vas. Enige prys ooreengekom tussen julle is van min waarde. Die prys moet deur waar­dasie bepaal word by sterfte, want dit is die waarde wat vir jou en jou naas­bestaandes belangrik is.

Dit is ook die waarde wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens gaan gebruik om jou boedelbelastingverpligtinge te bereken. Ou Jan Taks steur hom nie aan prysooreenkomste nie.

Êrens moet die geld vandaan kom. Natuurlik is dit nie verpligtend om die koop met ’n polis te finansier nie. Jou vennoot kan dit gaan leen, hy kan dit uit sy spaargeld gaan haal, sy ma vra om ’n lening, of wat ook al.

Maar loshande die goedkoopste en verreweg die sekerste manier om voorsiening te maak vir kontant om die belang in ’n saak uit te koop, is versekering. Hieroor bestaan geen twyfel nie.

Die opbrengs op ’n lewenspolis op jou lewe is egter ’n geagte bate in jou boedel en as sodanig vatbaar vir boedelbelasting. Daar is ’n vrystelling beskikbaar in die Boedelbelastingwet (Wet 45 van 1955) vir polisse wat bedoel is om ’n koop-en-verkooptransaksie te finansier. Maar net as aan al die vereistes voldoen word.

Een daarvan is dat die vennoot die polis self moes betaal, nie die maatskappy nie. Ek sien sommige ouditeure teken dit aan teen ’n lenings­rekening en probeer Jan Taks só ’n rat voor die oë draai. Moenie. Jy gaan die boedelbelastingtoegewing verbeur. Kry kundige hulp met koop­en-verkoopooreenkomste, sowel as die regte uitvoering van die polis wat dit moet finansier, as julle dalk ’n polis wil insluit.

VNico van Gijsen CFP® is die besturende direkteur van Finlac en ’n lid van ­Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Hulp met Kleinsake, Posbus 8422, Johannesburg 2000. Sy e-posadres is nico@finlac.com.