Vae bepalings is tot begunstigdes se nadeel

Ek het onlangs ’n skrywe ontvang van ’n jong man met ’n reuse-dilemma wat handel oor ’n erfporsie wat hy en sy pa se suster ontvang het.

Dit is vir hulle in ’n trust nagelaat met die testament wat bepaal het dat hy, Johan Brink, geregtig is op die kapitaalgroei wat op die nagelate bates verdien kan word.

Sy pa se suster, Maria, wat ­35 jaar ouer is as Johan, is egter geregtig op die inkomste wat op die bates verdien kan word.

Sy pa, wat die testamentêre trust opgerig het, was bekommerd oor sy suster omdat sy in ’n ongelukkige ­huwelik vasgevang was en hy gedink het dat hy stappe moes doen om te verseker dat sy suster in die toekoms versorg is.

Hy was ook eintlik vriendelik verplig om vir sy suster te sorg omdat hy die familieplaas geërf het, maar dit weens veranderde omstandighede verkoop het. Dit was egter al wat die trust bepaal het.

Daar was nie riglyne oor die bestuur van die portefeulje nie en ook nie wat die bron van die inkomste kan wees nie.

Dit is nou tien jaar later en Maria se situasie het nie verbeter nie. Sy is erg afhanklik van die inkomste uit die trust. Johan, daarenteen, kan sien dat as die bates so belê word dat ’n maksimum inkomste verdien word, daar nie kapitaalgroei is nie en dat inflasie sy erfporsie gaan opvreet.

Die resultaat van al hierdie bepalings is dat die trustees van die fonds wat aan hierdie opdrag uitvoering moet gee, in twee geskeur is.

Dit was duidelik die bedoeling van Johan se pa dat daar aan die een kant inkomste moet wees om vir Maria te sorg en aan die ander kant kapitaalgroei vir Johan se gebruik.

Dit is egter ook so dat Maria ’n baie sterk invloed op die trustees het en haar man druk so al wat hy kan om die maksimum inkomste wat moontlik beskikbaar kan wees, te verdien, ongeag die volhoubaarheid daarvan of die noodsaak om hulle teen inflasie in die toekoms te beskerm.

Johan wil nou by my weet hoe jy die situasie beredder. Aan die een kant wil hy nie sien dat sy pa se suster gebrek ly nie, maar hy besef dit is noodsaaklik dat groeibates deel van die portefeulje uitmaak.

Wat die omstandighede nog verder bemoeilik, is die feit dat sy pa se suster nog tien jaar in die familie se huis mag bly, maar daarna moet die huis verkoop word en die opbrengs tussen hulle twee verdeel word.

Sy wil egter nou die huis verkoop en ’n goedkoper huis koop en met die kapitaal wat loskom ekstra inkomste verdien.

Weer sal dit tot Johan se nadeel strek.

’n Oplossing vir die situasie verg Salomo se wysheid.

Dit is jammer dat die trust se be­palings in die eerste plek so vaag beskryf is, maar daaraan kan daar nou niks gedoen word nie. Die feit van die saak is dat die huidige situasie on­volhoubaar is. Ek dink egter dat die trustees moet instem dat ’n ontrekkingskoers van 5% wat jaarliks met inflasie aangepas word al inkomste is wat Maria mag kry.

Alle ander opbrengste op die belegging – of die oorsprong daarvan nou kapitaalgroei, rente of dividende is – moet in die belegging tot voordeel van Johan teruggeploeg word. Die belegging kan dan teen om en by die inflasiekoers groei.

Die samestelling van die belegging sal dan ook ’n goeie blootstelling aan aandele hê, maar ook genoeg van die ander bateklasse soos kontant en effekte om stabiliteit te verseker.

Wat ’n mens hieruit kan leer, is dat diegene wat nog in die toekoms bates vir begunstigdes nalaat, baie mooi oor hul opdrag moet besin.

Ek vind baie keer dat ’n man wil dat sy vrou ’n inkomste verdien en die kinders kapitaalgroei en dat dit dan maar telkemale tot ’n situasie lei soos wat ek hier beskryf het. VDawie Klopper is ’n beleggingsekonoom by PSG Konsult. Sy e-posadres isdawiek@psgkonsult.co.za.