voorblad
Man van staal
voor die deur
Wetenskaplikes is deesdae baie na aan ’n revolusionêre deurbraak waar hulle sekere menslike liggaamsdele – van oë tot harte – sal kan vervang. En dié orgaanvervangings sal byna net so goed soos die ware Jakob kan funksioneer!
’n Bietjie meer as drie dekades gelede kon Suid-Afrikaners na Steve Austin: Die Man van Staal kyk. Dié wetenskapfiksiereeks met die akteur Lee Majors in die titelrol is weekliks op die voormalige TV2 uitgesaai en het gehandel oor ’n ruimtereisiger wat deur wetenskaplikes “herbou” is.
In die VSA was dit ’n kultusreeks, oorspronklik met die titel The Six Million Dollar Man, wat geskoei is op Martin Caidin se boek, Cyborg (1972).
Steve Austin het as’t ware ’n nuwe lewe gekry danksy bioniese liggaamsdele en ander tegnologies gevorderde robotika.
Vandag is die samelewing veel nader daaraan om ’n ware Steve Austin te skep. Grootskeepse nuwe ontwikkelinge in tegnologie maak dit nou moontlik dat daar mensgemaakte “onderdele” vir die liggaam beskikbaar is. Dit wissel van nagemaakte heupe en robothande tot “slim” inplantings wat depressie, epilepsie en selfs hoë bloeddruk sal kan behandel.
Die jongste ontwikkeling is deur wetenskaplikes in Wallis aangekondig. Hulle sê hulle kan ’n klein sensor in die brein plaas wat mense met rugbeserings en wat ledemate verloor het, kan help om hul nagemaakte ledemate te beheer.
Die toestel – nie veel groter as ’n vuurhoutjiekop nie – funksioneer deur honderde klein naaldjies wat elektriese seine in die brein kan aanvoel. Die naaldjies is elkeen nie veel dikker as ’n menslike haar nie. Die breinseine word dan deur die naaldjies na elektrodes in die mensgemaakte ledemate gestuur.
Dr. Robert Hoyle van MicroBridge Services, wat die sensor ontwikkel, sê: “Ons glo dit sal eendag ’n massiewe uitwerking hê op erg gestremde pasiënte of mense wat hul ledemate verloor het.”
So, wat behels al dié hoogs tegnologies gevorderde kure wat wetenskaplikes help om al hoe nader aan die skepping van ’n bioniese mens te beweeg?
’n Klein boksie, wat binne die liggaam versteek word, kan epileptiese aanvalle voorkom.
Die toestel, bekend as die dwaalsenuwee-stimuleerder, word gebruik om seine in die brein wat aanvalle blokkeer “aan te vuur”. Die boksie, ook bekend as die brein-pasaangeër, word in die bors geplaas en met die dwaalsenuwee wat deur die nek loop, verbind. Hierdie senuwee verbind die brein met verskeie spiere en organe. Elke agt sekondes stuur dit ’n sein wat elektriese aktiwiteit in die brein wat aanvalle laat voorkom, kalmeer. Sommige van die heel eerste Britse pasiënte wat die toestel op die proef gestel het, het nou al bykans vyf jaar lank geen epileptiese aanvalle gekry nie.
Met dié behandeling is ook reeds sukses behaal in die genesing van depressie.
Inplanting teen hoofpyne
Hoofpynpille is dikwels nutteloos of van bitter min waarde vir derduisende mense wat tros-hoofpyne kry – erge pyn-aanvalle wat verskeie kere gedurende die dag voorkom. Party mense word nou toegerus met’n toestel wat die senuwees in die agterkop stimuleer. Klein elektrodes word naby die agterkop-senuwees ingeplant en met ’n masjientjie in die abdomen verbind. Wan neer die pasiënt ’n hoofpyn voel aankom, druk hy of sy ’n afstandbeheerder wat elektriese seine deur die drade na die elektrodes stuur, wat dan die pynseine opbreek.
’n Volledige kunsmatige hart is gereed om aan kliniese toetse onderwerp te word. ’n Franse maatskappy genaamd Carmat het 15 jaar lank aan die ontwikkeling daarvan gewerk.
Verskeie vorige pogings om ’n hart te skep het misluk – dikwels omdat die hart ná ’n paar uur herlaai moes word of die risiko van infeksie ingehou het.
Tog het ’n 14-jarige Amerikaanse meisie, D’Zhana Simmons, onlangs vier maande lank sonder ’n hart oorleef. Die twee kunsmatige pompe wat die werk van haar hart gedoen het, kon lank genoeg volhou totdat sy ’n hartoorplanting gekry het.
Hierdie uitvindsel sal sowat 5 miljoen Britse vroue wat nie blaasbeheerhet nie – en mettertyd miljoene ander in die res van die wêreld – kan help. ’n Klep word naby die nek van die blaas geplaas wat danksy ’n TV-tipe afstandbeheerder sal kan oop- en toemaak.
Die vloei van urien sal letterlik met die druk van ’n knoppie beheer kan word en lekkasie finaal kan voorkom. Die toestel, bekend as AssureFlow, word tans nog deur wetenskaplikes van die Universiteit van Tegnologie in Sydney, Australië, op die proef gestel.
Dokters van die Moorfields-ooghospitaal in Londen het al “kunsmatige” retinas oorgeplant om blinde mense weer te laat sien. Die inplanting, ook bekend as die Angus II, word agter die retina geplaas – die deel van die oog wat beelde verwerk. Die pasiënt dra dan ’n bril met ’n miniatuur-videokamera in die raam. Sodra die kamera bewegende prentjies opneem, “vertaal” die mensgemaakte retina dit in swart-wit beelde wat deur die optiese senuwee na die brein gestuur word.
Die afgelope 20 jaar het duisende dowe of gedeeltelik dowe mense in Brittanje klein skulpvormige toestelletjies, bekend as slakkehuis-inplantings (kogleêre implantings•, gekry wat hulle met hul gehoor gehelp het.
Chirurge plaas ’n elektrode met ’n ontvangstoestel diep binne-in die oor en verbind dit aan ’n mikrofoon wat nes ’n gehoortoestel gedra word. Die klanke word dan in elektriese seine omgeskakel en deur die gehoorsenuwee na die brein gelei.
Die volgende geslag inplantings, wat tans ontwikkel word, sal die klank van spraak en musiek verbeter.
Die helfte van alle hartaanvalle en beroertes word deur hoë bloeddruk veroorsaak. Tog hou sommige pasiënte op om hul medikasie te gebruik omdat hulle geen simptome ervaar nie. ’n Nuwe uitvindsel, die Rheos-toestel, sal kan help.
Dit is so groot soos ’n kredietkaart en word onder die nekvel geplaas, naby die nekslagaar wat bloed van die hart na die brein vervoer. Wanneer dit aanskakel, stuur dit seine na die brein dat daar ’n toename in bloeddruk was. Die brein stuur dan instruksies na die bloedvate wat uitsit en bloed toelaat om vryelik te vloei. Die hartklop neem gevolglik af.
Proeflopies in die VSA is omtrent halfpad. Die toestel behoort binne die volgende twee of drie jaar internasionaal beskikbaar te wees.
’n Mensgemaakte lewer sal die lewe van talle pasiënte wat op ’n leweroorplanting wag, kan red.
Dit is danksy ’n toestel wat deur HepaLife Technologies in die VSA ontwikkel is. Soos bloed tot in die masjien herlei word, kom dit in kontak met derduisende lewerselle wat uit varke gehaal en aan die binnekant van die toestel geplaas is.
Hierdie selle kan die menslike lewer naboots deur die bloed te suiwer en gifstowwe te verwyder.
Toetse wat uitgevoer is op agt pasiënte wat op ’n leweroorplanting gewag het, het getoon hulle het lank genoeg oorleef totdat hulle die oorplanting kon ontvang.
In Brittanje sterf sowat 7 000 mense jaarliks weens lewersiekte. Die aantal gevalle is besig om drasties toe te neem weens fuif-drinkery (“binge drinking”).
Die Proprio-voet, vervaardig deur die Yslandse onderneming Ossur, is reeds so ver gevorder dat dit al kan aandui of iemand trappe klim of besig is om teen ’n afwaartse helling of heuwel te loop.
Klein sensors kan die geringste verandering in die terrein bespeur en outomaties die hoek van die voet verander – als danksy ’n hoogs tegnologies gevorderde bewegende enkel.
Dit is die naaste wat wetenskaplikes aan die nabootsing van ’n ware enkel-gewrig gekom het en is ligjare verwyder van die houtbene wat die vegvlieënier sir Douglas Bader ná die Tweede Wêreldoorlog gedra het. Bader het albei sy bene verloor.
Deur Tim Brady
Bloeddruk-skyfie
Bioniese harte
Brein-pasaangeër
Robot-voet
Lewer-masjien
Kunsmatige oorkanale
Afstandbeheerde blaas
Mensgemaakte oë