Deur Kobus Burger
“Hierdie is die laaste dieet wat jy ooit sal aanpak.” Met dié dapper woorde daag die Amerikaanse skrywer en voedingskonsultant Donna Gates almal uit om haar voedingsplan en dieet op die proef te stel.
Gates se boek, The Body Ecology Diet (uitgegee deur Hay House), van meer as 300 bladsye beskryf die “revolusionêre program” wat selfs die goedkeuring van bekendes soos die Hollywood-aktrise Jessica Biel geniet.
Volgens Gates kan ’n verskeidenheid simptome en siektes na een oorsaak herlei word. Moegheid, hoofpyne, allergieë, gewrigs- en spierpyn, inflammasie en oorgewig is glo almal moontlike tekens van Candida.
“Gesondheid begin in die spysverteringstelsel,” verduidelik die skrywer wat die steun van mediese dokters soos dr. Leonard Smith geniet. “Oordadige gebruik van antibiotika en suikerverslawing het gelei tot die epidemie genaamd kandidiase of uitermate groei en toename van gis (swamme) in die liggaam.”
The Body Ecology Diet (B.E.D.), wat deur Gates ontwikkel is, takel die “innerlike ekologie” van die liggaam. Die dieet berus onder meer op die drastiese vermindering van die inname van koolhidrate en suikers, ’n vorm van detoksifikasie en ’n verandering in die gehalte van die vette en olies wat ’n mens gebruik en eet.
Sowat 40 jaar gelede het antibiotika (letterlik: “teen lewe”) die wêreld getref as ’n soort wonderwerk-medisyne wat die meeste siektes kan genees. Antibiotika maak helaas nie net die bakterieë dood wat siektes veroorsaak nie, maar ook “goeie bakterieë”. Dit versteur die liggaam se natuurlike, innerlike ekologie en veroorsaak, volgens Gates, dat “onvriendelike, opportunistiese organismes”, soos Candida albicans, wat in ’n hoësuiker-, suurvormende en lae-mineraal-omgewing floreer, oorneem.
As dit die spysverteringskanaal oorneem en uitermatige groei aangewakker word, kan dit selfs in die bloedstroom versprei en letterlik in elke orgaan van die liggaam sy intrek neem. Dit kan dan as ’n sistemiese Candida-infeksie beskryf word. Candida skei verskeie gifstowwe af wat die liggaam dan verder vergiftig, die immuniteit van die persoon verlaag en ook die endokriene stelsel aantas.
Gates beveel twee dinge aan om die wanbalans te herstel: Eers moet die “slegte gis of Candida” uitgeroei word deur mineraalryke en effens alkaliese bloed te skep; en dan om “vriendelike bakterieë” te hervestig, asook die spysvertering te verbeter.
“Siekte kom in ons liggaam voor wanneer ons te suur en daarom toksies is,” sê Gates. Deur die regte kosse en voedingstowwe in te neem, kan die liggaam se pH-balans herstel word.
Kosse wat byvoorbeeld suur in die liggaam skep, is volgens Gates se B.E.D. onder meer suiker, lekkers, koeldrank, meelprodukte, boontjies, soja-produkte, neute, wyn, bier, alkohol en kommersieel gesuiwerde asyn. Alle geprosesseerde kosse met preserveermiddels lei tot suur en moet vermy word, volgens Gates.
’n Verdere beginsel – daar is eintlik nege beginsels waarop die B.E.D. berus – is dat daar by elke maaltyd kosse geëet word wat maklik met mekaar kombineer.
Vrugte moet op ’n leë maag en op hul eie geëet word.
Maar wanneer ’n mens met die B.E.D. begin, word slegs suurlemoene en bessies toegelaat. Proteïen moet slegs met nie-styselagtige groente en/of oseaan-groente geniet word. ’n Goeie voorbeeld is vis saam met roerbraai- of gestoomde groente. Of ’n groot groenteslaai met proteïen (soos salm of snye gekookte eier).
Water moet ook op sy eie gedrink word. Ideaal gesproke moet ’n mens minstens agt glase water per dag drink, maar nie saam met ’n maaltyd nie. Dit verwater glo die spysverteringsensieme.
Drink water wat kamer- of liggaamstemperatuur is, want koue water “skok” blykbaar die stelsel.
Om die spysverteringskanaal verder by te staan, het Gates die 80/20-beginsel ontwikkel. “Eet totdat jou maag 80% vol is, en laat 20% vir spysvertering. 80% van die kos op jou bord moet land- of oseaan-groente wees. Die oorblywende 20% kan proteïen of graan en styselagtige groente wees.”
Die B.E.D. is heeltemal suikervry omdat suiker die swam-infeksie voed. Omdat ’n mens van nature ’n soet tand het, stel Gates voor dat suiker deur stevia vervang word. (Stevia is ’n kruieplant en van die chrysanthemum-familie. Dit is tussen 200 en 300 keer soeter as suiker.)
Gates skryf in The Body Ecology Diet dat party mense soveel as 5 kg binne die eerste twee weke van die dieet kan verloor.
“Dit is heeltemal normaal – moenie bekommerd raak as jy meer gewig verloor as wat jy verwag het nie. Binne drie maande, of selfs gouer, sal jy jou ideale gewig bereik.”
Voordat ’n mens Gates se dieet oorweeg, is dit noodsaaklik om haar “Candida Quiz” op die webblad www.bodyecology.com te voltooi. Die gratis aanlyn-vraelys is ook in die boek vervat en is oorspronklik deur dr. William G. Crook, skrywer van The Yeast Connection, ontwikkel.
; Besoek www.bodyecology.com vir meer inligting en resepte. Vir inligting oor Gates se boek, The Body Ecology Diet, gaan loer in by www.hayhouse.co.za.
Deur die regte kosse en voedingstowwe in te neem, kan die liggaam se pH-balans herstel word.