Colin Clark (Eddie Redmayne) slaan die spyker op die kop as hy sê ’n mens vergeet nooit die eerste werk wat jy gehad het nie. In sy geval geld dit soveel te meer.
Stel jou voor jy beland op die stel van ’n rolprent genaamd The Prince and the Showgirl waarin sir Laurence Olivier (Kenneth Branagh) en Marilyn Monroe (Michelle Wil-liams) die hoofrolle speel.
Hierdie is geen verbeelde storie nie. Dit is wat regtig met die 23-jarige Clark – ’n Oxford-kêrel uit ’n welgestelde gesin – in die somer van 1956 in Londen gebeur het. Dié fliek van die regisseur Simon Curtis is gegrond op Clark se boek The Prince, The Showgirl and Me. Clark het later ’n dokumentêre rolprentmaker geword en is in 2002 dood.
Net soos die fliek wemel van die groot name van die destydse teaterwêreld, bestaan die rolverdeling uit groot name in die vermaaklikheidsbedryf van vandag. Judi Dench is te sien in die rol van dame Sybil Thorndike; Dougray Scott is die dramaturg Arthur Miller (toe Marilyn se derde man wat ’n rukkie saam met haar in Londen was, want inderwaarheid was hulle op hul wittebrood); en Julia Ormond is Vivien Leigh, die gerekende aktrise en Olivier se vrou. Kykers sal Zoë Wanamaker (as Paula Strasberg, Marilyn se toneelafrigter en vertroueling) herken as die bekkige eggenoot in die TV-reeks My Family, terwyl Emma Watson (van Harry Potter-faam) in die kleiner rol van Lucy te sien is, op wie Clark vir ’n wyle sy oog het, maar wat uiteraard nie kan kers vashou by Marilyn nie.
Dit is nie om dowe neute dat ek die lys name so afrits nie. Dit is akteurs wat gewig dra en by uitstek daarin slaag om aan karakters dimensie en lyf te gee in ’n teks wat by tye maar liggewig is. Dit is danksy hulle (afsonderlik en gesamentlik) dat ’n mens gebreke in die teks vergewe.
Die grootste uitdaging is natuurlik die van Williams. Hoe op aarde staan ’n mens die skoene vol van ’n ikoon soos Marilyn Monroe? Aanvanklik het ek my daarteen vas gestaar dat net Marilyn soos Marilyn kan lyk. Maar Williams spéél haarself in die rol in. Sy vang die broosheid, die onsekerheid, die speelsheid en die oorrompelende aantrekkingskrag van Marilyn vas. Dié soort spel besorg ’n mens ’n Oscar-benoeming.
Die verhaal van die verhouding tussen die verliefde, verwonderde Clark en Marilyn is op ’n manier amusant, maar dit wek ook deernis. Net soos die mense rondom hulle dink jy: Die armsalige kêrel, hy verwar afhanklikheid met liefde. Dit kan nie anders nie: Dié vrou gaan sy hart breek. Redmayne (ook in sy sproetgesig-voorkoms) is uitgeknip vir die rol.
Vir my het die grootste trefkrag egter gelê in hoe My Week with Marilyn die oomblikke van ’n gebrek aan selfvertroue blootlê. Dit geld nie net Marilyn nie. Terwyl sy daarvan droom om eendag ’n deurbraak in die teater te maak en ernstig opgeneem te word as ’n aktrise, wil Larry (soos Laurence Olivier genoem word) die groot stap van die verhoog na die silwerdoek neem. So vol bravade en tog so onseker, so blootgestel. Vivien kyk toe hoe ’n beeldskone vrou almal rondom haar betower. Ook vir Larry. Dít ten spyte daarvan dat sy bykans onmoontlik is om mee saam te werk.
Maak nie saak watter groot ster jy is nie, almal is ook maar mens. Dit is dié menslikheid uitgebeeld in vinjette wat tot ’n mens spreek, wat jou ’n eerlike blik gee van wat agter die maskers lê.; Ander rolprente wat dié week open: Chronicle (ouderdomsperk onbekend) en die Suid-Afrikaanse flieks Material (ouerbegeleiding) en Semi-soet (ouderdomsperk onbekend).
Michelle Williams in die rol van Marilyn Monroe.
Wat My Week with Marilyn besonders maak, is die ensemble-spel van ’n uitgelese rolverdeling. Natuurlik ook Michelle Williams wat daarin slaag om onder die vel van ’n ikoon soos Marilyn Monroe in te klim.Deur Marguerite Robinson