Iets vir snobs... én die ander

Party mense sal sê dis die week waarin die skape van die bokke geskei word. Hoekom? Van ons gaan kyk na ’n verfynde Engelse kostuumdrama en ander van ons gaan regsit vir ’n brutale Amerikaanse avontuurreeks.

Downton Abbey met sy tros pryse, befaamde akteurs en snobwaarde begin op BBC Entertainment en The River met sy spesiale effekte, half bekende TV-gesigte en Spielberg as uitvoerende vervaardiger spring op M-Net Series weg.

Die graaf en gravin van Carnarvon was gaaf genoeg om hul kasteel, Highclere, en sy 404 ha grond in Hampshire vir ’n spul burgerlikes oop te stel sodat hulle Downton Abbey daar kon verfilm. Fiona en Geor­die, soos adellike vriende hulle noem, is natuurlik goed betaal vir dié gebaar. Hulle het glo die geld nodig om restourasiewerk te laat doen. Sien, selfs die rykes kry deesdae swaar.

Die storie begin in April 1912. Robert Crawley, die graaf van Grantham en huisbaas van Downton Abbey, het pas gehoor die onsinkbare Titanic het gesink. Daar is ’n bepaling dat sy landgoed deur ’n seun geërf moet word. Hy het net drie dogters en twee moontlike skoonseuns wat die geld in die familie sou hou, is saam met die skip seebodem toe.

Die volgende erfgenaam is Matthew Crawley, ’n veraf neef wat prokureur is en hom nie eens skaam dat hy soos ’n gewone mens werk nie. Die graaf se ma het nog nooit van sy vrou gehou nie, maar span met haar saam om een van die dogters langs Matthew voor die kansel te kry.

Omtrent die helfte van die storietyd word heel demokraties aan die werkers afgestaan. Die agbare Robert het ’n oorlogsvriend as sy lyfkneg aangestel en die huiskneg Thomas is vasbeslote om hom uit sy pos te werk. Dis net een van ’n tros intriges onder die trappe.

Downton Abbey het £1 miljoen (sowat R12 miljoen) per episode gekos, is die gewildste Engelse periodereeks sedert Brideshead Revisited en mense hou nie net daarvan nie, hulle raak versot daarop. Fiona en Geordie ontvang deesdae hordes wat met ’n gids deur die Crawleys se kasteel wil stap.

Groot storms in ’n Georgiaanse teekoppie. As jy ’n koffiemens is, sal jy dalk meer van The River hou. Dis Indiana Jones gekruis met Lost en so subtiel soos ’n tifoon.

Storie: Dr. Emmet Cole is ’n verkenner en bied ’n gewilde TV-program oor sy avonture aan. Hy gaan verken die Amasone en verdwyn. Ses maande later is hy nog skoonveld, maar dan kom daar skielik ’n sein van sy opsporingstoestel af. Sy vrou, Tess, wil hom saam met hul seun en vriende gaan soek. Sy oorreed Emmet se vervaardiger om vir die ekspedisie te betaal. In ruil daarvoor kan hy dit vir ’n dokumentêr verfilm.

Diep in die Amasone ontdek die klomp Emmet se verlate boot en ’n paar dodelike, skrikwekkende geheime . . .

Kyk die een of die ander. Of verbyster die snobs en kyk albei.

Deur Pieter van der Lugt

’n Toneel uit die hoog aangeskrewe Downton Abbey, wat vandeesweek begin.

Downton Abbey,Sondae om 20:30 op BBC Entertainment, en The River, Dinsdae om 20:30 op M-Net Series