Jan de Lange
Johannesburg. – Anglo American het sy onderliggende verdienste met 23% verhoog tot ’n rekord van $6,1 miljard danksy groter produksie by nuwe ysterertsprojekte in Suid-Afrika en koperprojekte in Suid-Amerika.
Produksie van die groep se ander staatmakers – metallurgiese steenkool en platinum – het egter afgeneem weens reën en oorstromings vroeg in die jaar in Australië en produksie-onderbreking weens veiligheidsoorwegings in die groep se Suid-Afrikaanse platinummyne.
Die mark was nietemin verras deur Anglo se resultate vir die jaar tot einde Desember, wat Vrydag bekend gemaak is. Die onderliggende verdienste was 6,5% per aandeel meer as die konsensusvoorspelling van 23 ontleders wat aan ’n Bloomberg-peiling deelgeneem het.
In drie van Anglo se sewe sake-eenhede was die bedryfswins ’n rekord: in die ystererts-mangaaneenheid, wat ’n bedryfswins van $4,52 miljard behaal het, in die metallurgiese steenkoolafdeling ($1,189 miljard) en in die verhittingsteenkoolafdeling ($1,23 miljard).
Koper was Anglo se grootste verdiener en het $1,61 miljard tot die onderliggende verdienste bygedra.
Die bedryfswins was egter 13% minder as in die vorige jaar op $2,461 miljard weens weerverwante produksie-onderbrekings en ’n laer as verwagte ertsgraad.
Ystererts en mangaan het $1,525 miljard opgelewer. Verhittingsteenkool was die derde grootste verdiener met $902 miljoen.
De Beers se bydrae het met 46% gestyg tot $410 miljoen, wat goeie dinge voorspel vir die dae wanneer Anglo sy belang van 45% tot 85% vergroot. Hy koop die Oppenheimers se belang van 40% teen $5,1 miljard.
Die transaksie, wat in November aangekondig is, sal waarskynlik in die derde kwartaal van vanjaar afgehandel word.
’n Daling van 30% in die verdienste van Anglo American Platinum (Amplats) was egter ’n teleurstelling en me. Cynthia Carroll, uitvoerende hoof van Anglo, het deurgeloop onder kritiek oor die groep se platinumafdeling, wat saam met die belang in De Beers veronderstel is om Anglo van sy mededingers te onderskei, maar al jare lank sukkel om aan die verwagtinge te voldoen.
Daar was veral onder Britse aandeelhouers hoop dat Carroll en mnr. René Medori, die groep se finansiële hoof, die opbrengs van $5,9 miljard uit die verkoop van koperbelange in Chili as ’n spesiale dividend sou uitkeer.
Anglo was egter konserwatief en het die geld gebruik om die netto skuldlas tydelik te verminder van $7,4 miljard tot $1,4 miljard.
Die netto skuld gaan vanjaar egter weer vinnig toeneem tot ’n pro forma-$9 miljard weens die De Beers-verkryging en kapitaalwinsbelasting op die Chili-transaksie, hoewel kontantvloei in die loop van vanjaar waarskynlik daarmee sal help.
Die finale dividend is met 15% verhoog tot 46 Amerikaanse sent of R3,5998 per aandeel.
Dit bring die dividend vir die jaar op 74 Amerikaanse sent te staan – 13,8% meer as in die vorige jaar.
Anglo se aandele het ná die resultate 2,2% hoër verhandel op R327,64.