Hennie Duvenhage
Kaapstad. – Die voorgestelde eenheidstruktuur in die landbou-waardeketting sal bestaan uit ’n vrywillige forum waartoe landbou-organisasies behoort wat op die beginsel van mandate werk.
Die organisasies behou elk hul outonomie en onafhanklikheid met die reg om hul eie standpunte openbaar te maak.
Dit is die kern van ’n aanbeveling van ’n taakspan wat aangewys is om ’n konsepraamwerk op te stel en aan die groepleiers in die landbouwaardeketting voor te lê wat deur prof. Mohammad Karaan byeengebring is.
Hulle kom op 23 Februarie weer byeen om die voorgestelde raamwerk te bespreek, te aanvaar of te wysig.
Karaan is onder meer lid van mnr. Trevor Manuel, minister in die presidensie, se beplanningskomitee waar die behoefte ontstaan het om slegs met ’n oorkoepelende landbou-organisasie te skakel pleks van die rits diverse menings wat in landbougeledere gehoor word.
Die voorstel is dat die landbouforum, wat bekend sal staan as die Agrisektor-eenheidsforum, die enigste liggaam sal wees wat die mandaat het om konsensus-menings vir die forum te ontwikkel.
Lede wat minderheidsmenings huldig, sal daarvoor erkenning gegee word dat hulle nie met die meerderheidsbesluit saamstem nie.
Lede van die forum sal jaarliks ledegeld betaal en die forum behou die reg om aansoeke goed of af te keur en lede te skors wat buite die gees en protokol van die forum optree. Daar is reeds verskeie agendapunte voorgestel waaroor die forum konsensus moet probeer bereik.