Hoër verkope ‘te goed om waar te wees’

kop

Pretoria. – Die skerp styging van 22% in sementverkope verlede maand is toe te skryf aan handelaars wat sement opgaar voor prysverhogings, sê bedryfsleiers.

Hulle meen hierdie syfers is te goed om waar te wees. Dit volg op 4,2%-groei in gemiddelde daaglikse verkoopsvolumes verlede jaar vergeleke met 2010.

Dr. Stephan Olivier, uitvoerende hoof van AfriSam, sê verlede maand se verkope was goed danksy min reën, maar hy meen die syfer is ook kunsmatig opgejaag omdat handelaars bykomende voorraad gekoop het voordat sementpryse styg.

Tot dusver vandeesmaand dui die verkope nie op ’n soortgelyke skerp styging nie, sê hy.

Pretoria Portland Cement (PPC) wys in ’n nuusbrief daarop dat die skerp styging gebeur het teen die agtergrond van buiten­gewoon swak verkope in Januarie 2011. Die groep bevestig ook dat sement gewoonlik in die maand voor ’n prysverhoging buitengewoon fluks verkoop. Verlede jaar het PPC, wat die grootste sementprodusent is, sy pryse in Januarie verhoog, maar vanjaar is dit uitgestel tot vandeesmaand.

Mnr. Piet Strauss, uitvoerende hoof van NPC Cimpor, sê ondervinding het hom geleer om geen gevolgtrekking te maak oor sementverkope voor die Paasnaweek nie. “Daar is te veel faktore wat ’n invloed kan hê, soos die bouersvakansie, reën en prysverhogings.” Hy stem saam dat die 22% nie die ware prentjie van die mark weerspieël nie.

Me. Charlene Lamb, kommunikasiebestuurder van Lafarge, sê dié produsent het sy pryse ver­lede maand verhoog. Sedert die tweede helfte van verlede jaar het verkoopsvolumes begin groei, maar sy meen ook vooruitaan­kope kon die Januarie-syfer opgeblaas het.

Me. Elsie Snyman, uitvoerende hoof van die konstruksiedatadiens Industry Insight, sê meer sement is die afgelope paar jaar ingevoer. In die eerste 11 maande van verlede jaar is daar volgens syfers van die departement van handel en nywerheid altesame 410 000 ton ingevoer, hoofsaaklik van Indië en Pakistan.

Invoer is egter minder haalbaar as die rand versterk, soos onlangs die geval was. Dit kan dié markaandeel weer aan plaaslike produsente gee.

Snyman sê invoer raak eintlik net die markte in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal. ’n Toename in bouwerk deur die private sektor het wel sementverkope in die Noord-Kaap, Noordwes en Mpumalanga bevorder.

Die vraag na sement groei egter vinniger as wat die goedkeuring van bouplanne in die private sektor toeneem. Dit dui daarop dat regeringsbesteding ’n toenemende rol in die sementmark speel, sê Snyman.

Oor die vooruitsigte is al die produsente versigtig optimisties. Lafarge verwag vanjaar groei in die bedryf van 3% en AfriSam praat van 2% tot 5%.

Olivier sê die land se produksievermoë word tans onderbenut.

Die vier groot produsente het saam die vermoë om meer as 17 miljoen ton sement per jaar te vervaardig, vergeleke met die totale gebruik van 11,2 miljoen ton verlede jaar.

Van die bestaande sementprodusente het AfriSam onlangs op aandeelhouersvlak deur diep waters gegaan. Die Openbare Beleggingskorporasie het egter die beheer oorgeneem en sy skuld herstruktureer, wat hom beter posisioneer vir die toekoms.

Lafarge wou nie reageer op berigte dat sy Suid-Afrikaanse bedrywighede te koop is nie. Volgens berigte uit die buiteland oorweeg hy dié stap as deel van die rasionalisasie van die internasionale groep en stel ’n Indiese groep dalk belang.

Plaaslike rolspelers sê egter dit kan partye soos Sephaku en Conticem ook loon om Lafarge se aanlegte te koop. Afhangende van hoeveel reeds in hul eie nuwe aanlegte belê is en wat Lafarge se prys is, kan dit ’n nuwe rolspeler vinniger en maklik ’n markaandeel gee.

Bestaande produsente sal waarskynlik sukkel om by die Mededingingskommissie verby te kom sou hulle Lafarge se bedrywighede wou aanskaf.

Daar is twee nuwe toetreders op die horison – Sephaku, met die steun van die Nigeriese sementgroep Dangote as aandeelhouer, en Conticem, met die Chinese Jidong-sementgroep. Albei het aangedui dat hulle voorberei om binne die volgende jaar of wat self sement te produseer.