Groter deel van salaris nodig as in baie ander lande
Ingé Lamprecht
Johannesburg. – Die relatief hoë persentasie van sy inkomste wat die gemiddelde Suid-Afrikaner moet bestee om ’n nuwe voertuig te koop, werp lig op die relatief klein persentasie van die bevolking wat wel ’n voertuig besit.
Rolspelers in die plaaslike voertuigbedryf het al gemaan dat ekonomiese groei en ooreenstemmende groei in besteebare inkomste nodig is sodat meer Suid-Afrikaners ’n voertuig kan besit.
Hoewel die verkope van nuwe voertuie verlede jaar volgens syfers van die nasionale vereniging van voertuigvervaardigers (Naamsa) met sowat 15,6% op ’n jaargrondslag tot sowat 570 000 voertuie gestyg het, besit slegs ’n klein persentasie van Suid-Afrikaners ’n eie voertuig.
Mnr. Gavin Maile, Afrika-voertuigbedryfsleier van KPMG, sê breë ramings is dat sowat 20% van Suid-Afrikaners ’n voertuig besit vergeleke met ruweg meer as 60% van die inwoners van ontwikkelde lande.
Volgens WesBank se internasionale mobiliteitstudie, waarvan die resultate in die afgelope week bekend gemaak is, moet ’n Suid-Afrikaanse wiskunde-onderwyser met vyf jaar ondervinding by ’n staatskool sowat 95% van sy jaarlikse salaris bestee om ’n nuwe intreevlakvoertuig te koop. Dit kom neer op sowat 11,5 maande van sy jaarlikse salaris.
Dieselfde onderwyser sal in die VSA 23% van sy jaarlikse salaris moet opdok vir dieselfde voertuig, terwyl Australiese, Duitse en Chinese onderwysers onderskeidelik 26%, 33% en 68% van hul jaarlikse salaris sal moet betaal. In Brasilië sal die onderwyser egter langer as ’n jaar moet werk om dieselfde motor te kan bekostig. (Sien die grafieke.)
In die mobiliteitstudie is die eienaarskap- en bedryfskoste in dié lande ook ondersoek. Dit sluit in die aanvanklike koopprys van die voertuig, brandstof- en instandhoudingskoste, belasting, heffings en lisensiëring, versekering, koste van finansiering en die vaste residu-waarde. In dié studie was Brasilië die enigste van bogenoemde lande met ’n hoër mobiliteitskoste in sent per kilometer as Suid-Afrika.
Mnr. Chris de Kock, hoof van verkope en bemarking van WesBank, sê die hoë mobiliteitskoste in Suid-Afrika vergeleke met ander lande kan toegeskryf word aan faktore soos hoë arbeids- en vervoerkoste, die gebrek aan skaalvoordele, belastings en verskille in regeringsaansporings.
Die prys van ’n voertuig in Suid-Afrika word deur verskeie faktore beïnvloed, maar veral koste is ’n probleem omdat Suid-Afrika ver van sy handelsvennote is en gevolglik groot koste moet aangaan om voertuie in te voer, sê hy. Plaaslike motorvervaardiging verteenwoordig ook minder as 1% van internasionale produksie, wat dit baie moeilik maak om skaalvoordele te bekom.
De Kock sê egter hoewel Suid-Afrika se kosteverhouding hoog lyk vergeleke met dié van ander lande in die studie, sou die situasie baie erger gewees het as dieselfde studie tien of 20 jaar gelede gedoen is.
Suid-Afrikaners het sedert 1994 stelselmatig inkomstegroei beleef en nuwevoertuig-inflasie is die afgelope tyd baie laag. Rentekoerse is ook die laagste in 30 jaar. Die voertuigmark het die afgelope dekades ook eksponensieel gegroei danksy die plaaslike voertuig-uitvoerprogram.
Maile sê daar moet egter ook gevra word of Suid-Afrikaanse onderwysers genoeg verdien vergeleke met hul oorsese eweknieë. Indien ’n Suid-Afrikaanse onderwyser se salaris byvoorbeeld sou verdubbel, sou hy skielik minder as 50% van sy jaarlikse inkomste aan ’n nuwe voertuig moes bestee.
Verder is dit nodig om in ag te neem dat die meeste Suid-Afrikaners selfs minder as ’n onderwyser verdien, sê hy.
Hoewel die prys van ’n voertuig heelwat belastings insluit, meen hy steeds dat die hoë koste-tot-inkomste-verhouding nie ’n geval is van Suid-Afrika se voertuie wat so duur is nie, maar eerder ’n geval van lae inkomstevlakke.
Hy meen hoewel hoër inkomstevlakke meer Suid-Afrikaners in staat sal stel om voertuie te koop, moet daar ook gevra word of die infrastruktuur ’n betekenisvolle toename in voertuie op paaie sal kan hanteer.