Frans de Klerk
Johannesburg. – Dit wil al hoe meer voorkom of die lopie in aandeelpryse op die JSE wat in Desember begin het, stoom verloor.
Die vlak van 34 000, wat vir die indeks van alle aandele ’n rekord was, is nou besig om in ’n weerstandsvlak te verander.
Om die momentum te herstel sal die indeks dus weer bo 34 000 punte moet konsolideer.
Spekulante neem reeds die afgelope twee weke winste en vir mediumtermynbeleggers met ’n siening van ses maande en langer lyk die mark steeds tegnies gesond terwyl die indeks bo 33 500 konsolideer.FirstRand
Dit lyk of die lopie in FirstRand se aandeelprys tekens gee dat dit uitasem raak. Steunlyn A op die daaglikse grafiek van die aandeelprys hou die sleutel.
Die aandeelprys het ’n lekker lopie agter die blad en ’n terugtrekking sal gesond wees.
Medium- en langtermynbeleggers moet bekommerd raak wanneer die prys tot onder R22,60 daal en dalk winste neem as dié vlak vir ’n week in ’n weerstandsvlak verander.
Spekulante moet eerder na iets anders soek. Die aandeel het ’n sterk lopie agter die blad en die maklike geld is reeds gemaak.
Dié wat nog aandele besit, kan wins neem wanneer die vlak van R22,60 in ’n weerstandsvlak verander.
Durban Roodepoort Deep
’n Moontlike dubbelhoogte is besig om op die daaglikse grafiek van Durban Roodepoort Deep se aandeelprys te ontwikkel.
Maar noudat die aandeelprys bo R5,70 gesluit het, lyk dit of die prys nuwe hoogtes wil opsoek. Die momentum na bo is goed gevestig.
Medium- en langtermynbeleggers moet onder R5,25 bekommerd raak. Intussen kan dié wat reeds van die aandele besit, dit oorweeg om nog te koop.
Spekulante kan weer bo R5,70 koop omdat die prys nou in ’n steunvlak verander het, maar gebruik R5,45 as keerverlies om kapitaal te beskerm. Ná R5,75 kan R6, R6,30, R6,45 en in die toekoms moontlik R7,15 bereik word.
V As Europa se probleme vererger, sal goud weer eens as ’n goeie toevlugsoord beskou word. Onthou net dat goudaandele spekulatief van aard is en ’n swak rand verkies.
V Frans de Klerk is ’n onafhanklike tegniese ontleder. Kontak hom by fdk@telkomsa.net.