SAL se skuldkrisis is hoekom hy nou weer bakhand staan

Kaapstad. – Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) moet van volgende jaar af ’n bedrag van tot R6,7 miljard vir nuwe vliegtuie begin afbetaal.

Die lugdiens sal tussen 2013 en 2017 dié A320-vliegtuie in gebruik neem en het die betrokke kontrak reeds in 2002 met die Europese vervaardiger Airbus gesluit.

Die lugdiens het egter so ’n benarde skuldposisie dat hy dié week aan die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings moes beken dat hy tussen R4 miljard en R6 miljard by die regering sal moet aanvra.

Me. Natasha Michael, DA-LP, het gesê as die regering R6 miljard aan die SAL gee, sal dit die totale bedrag sedert 2007 wat aan die lugdiens gegee is, op R11,7 miljard te staan bring.

’n Ondersoek deur Sake24 het gewys die SAL sit met ’n opgehoopte verlies van R11,7 miljard op sy balansstaat.

Die SAL se totale skuld op 31 Maart 2011 was R11,5 miljard.

Die maatskappy het verlede jaar gesê sy skuld-ekwiteit-verhouding is 20 tot 1, wat beteken vir elke R1 ekwiteit het hy R20 skuld. Die norm vir maatskappye se skuld-ekwiteit-verhouding is 0,5 tot 1.

Mnr. Wolf Meyer, finansiële hoof van die SAL, het verlede week aan Sake24 gesê die skuldsituasie is tans “definitief erger” as verlede jaar.

“Die (skuld-ekwiteit-syfer) is ’n baie belangrike saak wat tans met ons aandeelhouer (die regering) bespreek word.

“Vorentoe verwag ons ’n verdere toename in ons skuldvlakke, wat ons skuldterugbetalings gaan verhoog.”

Die lugdiens het nog nie geld by die regering gevra nie en ontwikkel nog ’n “strategiese groeiplan”.

Die lugdiens se ekwiteit is die afgelope tien jaar uitgewis vanweë onder meer ’n verskansingsverlies van sowat R6 miljard in 2004. Dié verlies het die grootste skade aangerig.

Die lugdiens se bestuur probeer die afgelope paar jaar slimmer werk deur byvoorbeeld die vloot doeltreffender te gebruik en winste te verhoog.

Waar die lugdiens byvoorbeeld in die verlede sy groot langafstandvliegtuie in die dag geparkeer het voordat hulle in die aand na die buiteland vlieg, word van dié vliegtuie nou op die besigste binnelandse roetes gebruik vir dagvlugte.

Die meeste van die SAL se vliegtuie word ook reeds gehuur, wat op kort termyn goedkoper is. Die lugdiens besit net 7 vliegtuie en 54 word gehuur. Die ideaal is egter dat hy meer vliegtuie besit.

Me. Siza Mzimela, uitvoerende hoof, sê die SAL is deur sy finansiële posisie gedruk om merendeels vliegtuie te huur eerder as te koop.