Bestuur beklemtoon dit is vir sy groeistrategie
Ingé Lamprecht
Johannesburg. – Die staatsbeheerde Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het die afgelope week na kritici gekap en gesê die geld wat hy van die regering vra, is nie ’n reddingspakket nie.
“Ons wil dit duidelik stel dat die onderneming nie in die moeilikheid is nie,” het me. Siza Mzimela, uitvoerende hoof van die SAL, Vrydag op ’n nuuskonferensie gesê.
Dit volg op kritiek dat die lugdiens weer belastingbetalersgeld nodig het omdat hy nie self oor die geld beskik om sy planne te finansier nie. Die SAL het tussen R4 miljard en R6 miljard nodig vir sy groeistrategie oor die volgende vyf jaar. (Lees die berig hiernaas.)
Mzimela sê die maatskappy is waarskynlik nou in ’n gesonder posisie as twee jaar gelede, maar om seker te maak dat die lugdiens volhoubaar bedryf kan word, moet dit behoorlik gekapitaliseer word.
Mzimela sê anders as byvoorbeeld Transnet, wat waarskynlik sy infrastruktuurprogram uit sy eie bronne sal finansier, maak die feit dat die lugdiens nog nooit behoorlik gekapitaliseer is nie, dié opsie onmoontlik.
“Die lugdiens se skuldverhouding is vergeleke met al sy lugdiensmededingers totaal uit verhouding.”
Mzimela sê die SAL het die laaste paar jaar wat die beskikbare getal sitplekke betref, gekrimp vergeleke met sy eweknieë in die Afrika-mark.
“Terwyl almal gegroei het teen koerse van 45%, 75% en selfs 100% in die geval van Ethiopian Airlines, het ons gekrimp.
“Daar is geen lugdiens wat homself al uit sy probleme gekrimp het nie. As jy krimp, is jy stadig besig om dood te gaan,” sê sy. Lugdienste is die afgelope tyd internasionaal onder druk te midde van die ekonomiese afswaai en hoë oliepryse. Die Hongaarse lugdiens Malev sowel as die Spaanse Spanair het sedert die begin van die jaar gevou terwyl Qantas met ’n herstrukturering besig is en American Airlines bankrotskapbeskerming ontvang.
Mnr. Nico Bezuidenhout, uitvoerende hoof van die staatsbeheerde laekostelugdiens Mango, sê die werklikheid is dat daar teen die huidige olieprys van sowat $121 per vat (die Brent-ruolieprys Vrydagoggend) reeds druk op wêreldlugdienste is.
“Ons beleef in die huidige omgewing druk op die vraag as gevolg van relatief lae groei in die bruto binnelandse produk en wêreldgroei. Klante kan dus nie die (prys)stygings hanteer nie,” sê Bezuidenhout.
Hy sê wanneer die internasionale ekonomie herstel en verbruikers prysstygings kán hanteer, kan die bedryf oorleef teen $130 tot $150 per vat.
Die SAL is wel in ’n effens beter posisie as sommige van sy mededingers omdat hy die afgelope jare van sy vliegtuie vervang het.
“Ons het relatief brandstofdoeltreffende vliegtuie, dus kan ons teen $120 of $130 kop bo water hou, maar dit is uiteindelik nie ’n volhoubare bedryf as daar swak vraag is wanneer die olieprys $120 of $130 per vat is nie.”