Halwe waarhede met uitneem van polis kan jou duur kos

Dood is nie die enigste vereiste vir die uitbetaling van ’n lewenspolis nie. Waar een versekeraar sal uitbetaal, sal die volgende dalk nie.

Ons kyk vandag na drie lesse wat ek meen ons kan leer uit ’n onlangse hofsaak in die hooggeregshof van KwaZulu-Natal.

Die oorledene – hy is vermoor in ’n taxi-verwante skietery – was verseker by drie versekeraars, Sanlam, Old Mutual en Momentum. Sanlam en Old Mutual het hul polis sonder enige gekibbel uitbetaal.

Momentum het geweier. Die eksekuteur van die boedel, Old Mutual Trust, het die saak hof toe geneem en die hof het in die guns van Momentum en die makelaar, ene A. van Loggerenberg van Absa Makelaars, beslis.

Die agtergrond is as volg: Die makelaar het aan die oorledene die Momentum-polis verkoop as sekuriteit vir ’n lening. Die bedrag was R4 243 600. In die polisaansoek is die oorledene se beroep aangegee as passasiersbus-operateur/-eienaar, hoewel hy ook ’n vloot taxi’s gehad het.

Dat taxi-eienaarskap nie bekend gemaak is nie, was vir Momentum genoeg rede om te besluit hy betaal nie uit nie. Momentum dek nie taxi-operateurs nie.

Omdat dit volgens Momentum belangrike inligting is wat van hom weerhou is, het hy geweier om uit te betaal. Die hof het Momentum gelyk gegee.

Hoewel die makelaar volgens Momentum ingelig is oor sy taxi-beleid, het die hof die makelaar skotvry daarvan laat afkom.

Interessant is dat die oorledene se beroep in die Sanlam-aansoek aangegee is as ’n bestuurder in die taxibedryf en in Old Mutual se aansoek dat hy ’n sakeman is. Tog het albei versekeraars sonder ’n hik uitbetaal.

Ek meen die saak kan dalk op appèl slaag, maar intussen kyk ons wat ons daaruit kan leer.

’n Mens dink dalk as jy dood is, is jy dood, is jy dood. Nee, nie volgens sekere versekeraars nie. Ek is onlangs ná ’n vorige rubriek deur ’n paar makelaars gevloek toe ek daarop wys dat ’n sekere versekeraar – nie Momentum nie – allerhande foefies bedryf, maar vir homself etlike agterdeure oophou sou hy ’n rede soek om nie die polis uit te betaal nie.

Les een? Lees die poliskontrak voordat jy teken. Die algemene reël­ is: Hoe makliker dit is om ’n polis te kry, hoe moeiliker gaan dit vir jou naasbestaandes wees om die geld te kry as jy doodgaan.

En om die punt af te rond: As jy versekering koop, koop versekering. Moenie jou laat ompraat met aanbiedinge van goedkoop vlugte, gimnasiumlidmaatskap en fliekkaartjies nie.

Les twee? Praat die waarheid. Loop veral lig vir halwe waarhede. Makelaars werk vir kommissie en die versoeking kan groot wees om met woordspeletjies kortpad te vat, eerder as om die kommissie te verloor. Jou naas­bestaandes gaan daaronder ly.

Les drie? Bankmakelaars werk nie vir die bank nie. Die bank gee jou inligting aan die makelaar, wat dan ’n polis aan jou verkoop. Die kommissie word met die bank gedeel en daarom is daar druk op die makelaar om te verkoop. Maar as daar probleme is, gaan jy die makelaar moet aanspreek, nie die bank nie. Die bank trek sy skouers op.

’n Laaste opmerking: Jy het nie nodig om ’n polis by die bank te koop as jy versekering vir ’n lening moet aanbied nie. Jy kan ’n bestaande polis gebruik of jy kan jou eie versekering kry by ’n makelaar van jou keuse.

V Nico van Gijsen CFP® is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur by Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of stuur e-pos na nico@finlac.com.