Wanneer mnr. Pravin Gordhan, minister van finansies, Woensdag die regering se begroting vir 2012 bekend maak, gaan die verskaffing van infrastruktuur een van die groot fokuspunte wees.
Hy het immers reeds op 25 Oktober 2011 in sy mediumtermynbegrotingsraamwerk aangedui dat die regering sy besteding wil herorganiseer om ekonomiese groei te bevorder en dat dit gedoen gaan word deur oor die volgende drie jaar meer as R800 miljard aan infrastruktuur te bestee.
Pres. Jacob Zuma het dié voorneme twee weke gelede in sy staatsrede herhaal.
Wat Gordhan egter ook in sy toespraak gesê het, is dat die groter infrastruktuurbesteding hoofsaaklik met skuld gefinansier gaan word. En dat die skuld terugbetaal sal word met belastings en/of gebruikerstariewe.
Die sowat 6 miljoen Suid-Afrikaanse inkomstebelastingbetalers moet hulle dus voorberei dat hul belastinglas oor die volgende drie jaar eerder sal styg as daal. Die begroting gaan dus nie juis goeie belastingnuus bevat nie.
Maar Gordhan het dit probeer regverdig deur te meld dat die ekonomiese koste as die infrastruktuur nié verbeter word nie selfs groter is as die stygings in die belastinglas en tariewe.
Daar kan nie fout gevind word met Gordhan se redenasie nie. Dit is immers ekonomiese handboekteorie wat hy verkondig.
Maar die teorie is ook gegrond op die bekostigbaarheidsaanname – dat daar genoeg belastingbetalers en verbruikers is om die besteding te finansier. En dat ’n te groot styging in die tariewe en belastings tot ’n groter daling in die gebruik van die infrastruktuur gaan lei.
In Suid-Afrika is die prys van die infrastruktuur egter onelasties. Want Suid-Afrika se tekort aan infrastruktuur is so groot dat enige prysstyging – hoe ongewild ook al – nie tot ’n groot daling in die vraag daarna sal lei nie.
Maar soos die geval is met enige skaarsheidsprobleem gaan die groter belastinglas en stygings in gebruikerstariewe tot wanbalanse elders in die ekonomie lei.
Een daarvan is dat verbruikers se spaarkoers verder gaan daal. Dit beteken dat druk op die land se lopenderekeningtekort gaan toeneem. En iewers in die toekoms gaan dit tot ’n swakker rand en stygende inflasie lei, wat op sy beurt die land se mense bestedingsarm gaan maak.
’n Beter manier om die probleem te verlig, is om die tempo waarin staatsbesteding styg te verminder deur die onproduktiewe staatsdiens te verklein en die vermorsing in staatsbesteding te verminder. Maar dié teorie is ongewild by politici en sal nooit in werking gestel word nie.