Staatsinmenging sal egter moontlike opbloei kelder
Dewald van Rensburg
Mombasa. – Kenia kry volgende jaar sy eerste grootskaalse mynprojek sedert onafhanklikwording – die Kwale-mineraalsandprojek.
Wanneer dié myn einde volgende jaar sy eerste besending titaandioksied uit Mombasa verskeep, kan dit eensklaps koffie verplaas as die land se vierde grootste uitvoerproduk, volgens die Australiese mynontwikkelaar Base Resources.
Die land het verlede jaar sy eerste goudmynlisensie uitgereik sedert onafhanklikwording in 1963, aan die Britse groep Goldplat. Hy is een van ’n handjie vol junior myngroepe wat in die weste naby Victoriameer goud soek in wat na die land se tweede groot goudstormloop lyk. (Lees die kassie.)
’n Siening dat Kenia skielik een van die vasteland se mynboulande gaan word, sal egter nog effe oordrewe wees.
Goldplat se Kilimapesa-myn beplan om 5 000 fynonse en later tot 10 000 fynonse per jaar te produseer. Kwale is wat grootte betref in ’n ander klas en die projek is in landsbelang, sê mnr. Tim Carstens, hoofbestuurder van Base Resources.
Dit sal ’n noemenswaardige bydrae van tot 14% tot die wêreld-produksie van rutiel, die suiwer vorm van titaandioksied, lewer.
Vir Kenia lê die waarde egter nie in die werk, belasting en vergoeding van grondeienaars nie, maar eerder in die internasionale sigbaarheid daarvan. Indien alles vlot verloop, sal dit ’n verwelkomingsmatjie vir ander mynbeleggers wees, maar as daar met dié projek ingemeng word, is dit volgens Carstens die einde van enige hoop op die opbloei van mynbou in die land.
Die regering steun dit ten volle en “doen alles wat van hom verwag word”, het Carstens gesê tydens ’n besoek van joernaliste en ontleders aan die projek.
Die projek is groot genoeg om die bruto binnelandse produk van Kenia met 0,6 persentasiepunt te laat spring, maar regstreekse indiensneming behels net sowat 350 poste. Boonop is die projek se lewensduur net 13 jaar.
In daardie 13 jaar sal dit egter ’n geskatte $1,9 miljard se verkope handhaaf en sal die regering, ná ’n groot belastingtoegewing, ’n geskatte $275 miljoen in belasting en tantième kry.
Kwale sal in die eerste tien jaar, amper die leeftyd van die projek, net die helfte van die gewone belastingkoers van 30% betaal, terwyl tantième vir vyf jaar, die winsgewendste deel van sy lewe, op 2,5% sal bly.
Die $275 miljoen is maar ’n tiende van vanjaar se Keniaanse begrotingstekort van byna $3 miljard. Die mynprojekte sal dus nie die land se ekonomie of staatsfinansies oornag transformeer nie.
Die regeringsteun is egter ’n dramatiese ommekeer. Kwale se aanvanklike eienaar, die Kanadese groep Tiomin, het in die loop van 15 jaar verbete probeer om die projek aan die gang te kry.
In 2010 het Base Resources die projek opgeraap. Die tydsberekening was uitstekend, sê Carstens. Markpryse vir Kwale se produkte het sedertdien verviervoudig.
Base skat dat Kwale $256 miljoen se kapitaalbesteding sal verg, maar binne 23 maande dit ten volle sal vergoed en binne vyf jaar $400 miljoen kontant ná belasting sal genereer.
Kwale se toekomstige produksie is reeds grootliks aan onder andere DuPont verkoop.
Die projek sal uiteindelik die verskuiwing van sowat 500 huishoudings vereis waarvan verreweg die meeste reeds deur Tiomin gehanteer is.
Volgens Carstens is verhuising eintlik vir gewone Keniane die groot voordeel. Elke huishouding ontvang 5,5 acre grond en vergoeding vir hul verlore bates.
In die weste van Kenia naby die derde grootste stad, Kisumu, aan die Victoriameer is daar ’n opbloei in eksplorasie na goud en ook onedelmetale.
Goldplat het verlede maand sy eerste goud gegiet, terwyl Linear en African Queen van Kanada asook Redrock Resources van Australië boorwerk in die gebied doen.
Aviva Corporation, wie se ekplorasieprojekte Sake24 besoek het, is besig om ’n 75%-belang in dié projekte by Lonmin oor te neem.
Die idee is dat die goudriwwe in Kenia se buurland Tanzanië, waar AngloGold Ashanti en Barrick grootskaals myn, nie by die grens stop nie.
Daar is geen twyfel nie dat daar goud is – dit word inderwaarheid reeds deur “informele” myners gemyn.
Aviva se eksplorasiegebiede is deurtrek van handgemaakte hystoestelle bo-op ou koloniale sowel as nuwe skagte. Dit sluit die oorblyfsels in van Rosterman, die grootste goudmyn in koloniale Kenia.
Die land se informele myners lewer volgens die US Geological Survey wisselvallige produksie van enigiets tussen 10 000 en 100 000 fynonse per jaar.
Die mineraalsand wat Kwale gaan lewer, is grootliks twee vorme van titaandioksied – die amper suiwer rutiel en die ysteraardige ilmeniet. Albei word gebruik om pigment vir verf te vervaardig – dit is die plaasvervanger van lood ,wat nou grootliks verban is.
Kwale sal jaarliks sowat 79 000 ton rutiel, 331 000 ton ilmeniet en 30 000 ton sirkoon lewer. Sy waarde spruit meestal uit die rutiel, wat sowat $2 400 per ton werd is en die helfte van sy omset sal bydra, terwyl ilmeniet teen $350 verhandel