Groter besteding moeilik behaal
Mari Beukes
Johannesburg. – Suid-Afrikaners dra van die swaarste belastinglaste ter wêreld. Tog is dit onwaarskynlik dat mnr. Pravin Gordhan, minister van finansies, binnekort enige werklike belastingverligting sal gee.
Wanneer die minister Woensdag vanjaar se nasionale begroting ter tafel lê, sal kredietgradeerders en internasionale beleggers gretig wees om te hoor hoe hy besteding gaan aanpas om die groeiende begrotingstekort in toom te hou.
Die tesourie het in Oktober verlede jaar met die bekendmaking van die mediumtermynbegrotingsraamwerk verwag dat die begrotingstekort vir die fiskale jaar 2011-’12 ongeveer 5,5% van die bruto binnelandse produk (BBP) gaan beloop.
Gordhan het dus vanjaar die moeilike taak om ekonomiese groei te probeer aanwakker sonder om besteding, en dus staatskuld, te veel te verhoog. Terselfdertyd beteken flou ekonomiese groei ook dat hy minder aan belastinginkomste tot sy beskikking het.
Mnr. Tendani Mantshimuli, verbruikersekonoom van Liberty Retail SA, sê Gordhan het om hierdie redes baie min beweegruimte om belasting te verlig.
Mantshimuli sê dit is ook onduidelik waar die geld vir die groot besteding aan infrastruktuur – wat pres. Jacob Zuma in sy staatsrede aangekondig het – vandaan sal kom.
“Transnet kan in die ope mark finansiering kry, maar ander infrastruktuurprojekte sal deur belastinginkomste of lenings gefinansier moet word.”
Mantshimuli wys daarop dat die Reserwebank onlangs sy vooruitskatting vir ekonomiese groei in 2012 tot net onder 3% verlaag het.
Aangesien belastinginkomste deur swak ekonomiese prestasie beperk gaan word, sal ander staatsbesteding aan infrastruktuur geraak word.
Nedbank se ekonomiese eenheid sê egter Gordhan het dalk groter beweegruimte as wat die tesourie in Oktober verwag het. Die eenheid sê belastinginkomste in die eerste nege maande van die fiskale jaar 2011-’12 was groter as verwag en dit kan die begrotingstekort waarskynlik tot net 4,5% van die BBP beperk.
Mnr. Chris Hart, ekonoom van Investment Solutions, sê die probleem met Suid-Afrika se fiskale beleid is steeds dat staatsbesteding vinniger groei as die ekonomie. Met fiskale beleid sal daar onderskei moet word tussen die verligting en die vermindering van armoede.
“Armoedeverligting verskuif hulpbronne van die produksie- en beleggingskant van die ekonomie na die verbruikskant. Armoedevermindering doen die teenoorgestelde.”
Hart sê die groot bedrae geld wat die regering die afgelope jare bestee het om armoede te probeer verlig, het uiteindelik sy vermoë om armoede te verminder, geknou.
Hart sê die enigste manier om op groot skaal in Suid-Afrika werk te skep is deur klein ondernemings te bou. “Klein ondernemings kry hul kapitaal meestal van huishoudings, maar Suid-Afrika se huishoudings het ’n tekort aan spaargeld. Die primêre oorsaak hiervan is dat fiskale en monetêre beleid dit vir huishoudings onhaalbaar gemaak het om te spaar.”
Hy sê die regering moet daarom ook besef dat die land se belastingbasis reeds amper uitgeput is.
Mnr. AJ Jansen van Nieuwenhuizen, hoof van die belastingafdeling van Grant Thornton in Johannesburg, sê meer moet ook gedoen word om die staatskis se afhanklikheid van ’n handjie vol getroue belastingbetalers te verminder.
“Al is daar bespiegelings dat die marginale belastingkoers verhoog kan word, kan Suid-Afrika se goue gans dit nie bekostig nie. Daar moet eerder meer gedoen word om ontduikers in die belastingnet te vang.”
Jansen van Nieuwenhuizen sê volgens ramings van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens is daar ongeveer 9 000 individue wat die staat ongeveer R50 miljard se belasting skuld. Hy sê ook verdere toenames in maatskaplike besteding sal nie volhoubaar wees nie.
“Ons bevraagteken nie die behoeftes van armes nie, maar Suid-Afrika kan nie beduidende toenames in maatskaplike toelaes hanteer nie. Dit maak nie saak hoe ’n mens dit ontleed nie – die groot aantal begunstigdes is veel meer as die individuele belastingbetalers.”