Kaapstad koop oortollige elektrisiteit in sonkrag-projek
Francois Williams
Kaapstad. – Sonkrag kan die grootste deel van die jaar in die grootste deel van ’n gewone huishouding se vraag na elektrisiteit voorsien, maar op die oomblik gaan dit jou baie geld kos.
Munisipaliteite bied nog weerstand teen die gebruik wat reeds algemeen in Europa gevolg word waardeur huiseienaars hul hernieubare-energiestelsels aan die kragnetwerk kan koppel en vergoed word vir die oortollige elektrisiteit wat hulle op die netwerk laai.
Drie huiseienaars van Kaapstad is egter nou deel van ’n toetsprojek van een jaar saam met die Kaapstadse munisipaliteit, wat hulle op ’n een-tot-een-grondslag gaan vergoed vir enige ekstra krag wat hulle opwek.
Dit beteken wanneer die huishouding se fotovoltaïese sonpanele meer krag opwek as wat die huishouding in daardie stadium gebruik, word die krag aan die munisipaliteit verkoop teen dieselfde prys as wat die huishouding krag koop wanneer die sonpanele nié genoeg krag opwek nie.
Dr. Anthony Keen, ’n afgetrede akademikus van die Universiteit van Kaapstad se mediese skool, is een van dié huiseienaars en hy eksperimenteer al langer as drie jaar met huishoudelike sonkrag.
Keen het van 2007 tot 2009 altesame R262 329 bestee om sy stelsel op te rig. Op grond hiervan is die koste van die krag wat hy self opwek, R2,17 per kWh.
Maar, soos Keen sê, dit sal oor 25 jaar steeds R2,17 per kWh kos. En waar sal Eskom se pryse teen daardie tyd trek?
Boonop raak fotovoltaïese sonpanele al hoe goedkoper namate verkope toeneem en tegnologie verbeter.
’n Aansporingstarief vir die verkoop van oortollige groenkrag aan munisipaliteite sal dié langtermynbelegging nog aantrekliker maak.
Keen het 20 sonpanele met ’n totale opwekkingsvermoë van 3,8 kW op sy dak gemonteer. ’n Batterybank van 24 batterye van 2 V elk en ’n enkelfase-6 kVA-wisselrigter, wat gelykstroom in wisselstroom verander, is daaraan gekoppel.
Hy het twee scenario’s in sy eksperiment nageboots. In die een het hy gemik daarna om soveel moontlik sonder krag van die netwerk klaar te kom. Dis wanneer batterykrag gebruik word as die sonkrag te min is. Eers as die batterye te min krag lewer, word netwerkkrag gekoop.
In die ander scenario word netwerkmeting nageboots en is die volgorde waarin krag gebruik word, eerstens die sonpanele, daarna die kragnetwerk en dan die batterye.
Keen sê netwerkmeting is makliker omdat alles geoutomatiseer is, maar dit benut nie sonkrag so goed soos in die eerste scenario nie.
Van Mei 2010 tot April verlede jaar het Keen se huishouding gemiddeld net 86 kWh per maand van die kragnetwerk gekoop.
Die res het van sonkrag gekom. Kragverbruik word só bestuur dat die meeste krag gebruik word wanneer die sonpanele die meeste krag opwek.
In die jaar van Maart 2009 tot April 2010 het Keen 6 431 kWh deur sy sonpanele opgewek en 2 001 kWh is van die kragnetwerk gekoop.
Volgens Keen is die loodsuurbatterye wat in sy stelsel hy gebruik, sy swakste skakel – hul doeltreffendheid is maar 54%.
Hy wil graag in litiumbatterye belê. Dié batterye is vyf keer duurder, maar op lang termyn lyk dit ekonomies aantreklik.
Nog ’n alternatief vir die voorsiening van energie in die toekoms is om oortollige krag te gebruik om waterstof te vervaardig wat deur ’n brandstofsel elektrisiteit kan lewer.