Keen se eerste stap was om sy elektrisiteitsverbruik drasties af te skaal. Hy het sy kragverbruik van 1 260 kWh per maand tot 350 kWh verminder deur onder meer ’n sonwaterverhitter en houtkaggel te installeer; die plafon, warmwatersilinder en waterpype te isoleer; energiebesparende gloeilampe te kry; ’n tydskakelaar aan die elektriese element van die warmwatersilinder te koppel; huishoudelike toestelle stelselmatig deur energiedoeltreffender toestelle te vervang; en in die algemeen ’n meer energiebewuste leefstyl te volg.
Die sonwaterverhitter se besparings betaal binne ses jaar vir dié kapitaaluitgawe en bedra sowat 60% van die totale kragbesparings. Die plafon-isolasie en ander maatreëls het vir 28% van die totale besparings gesorg en die aanpassings aan sy swembad vir die res.
Keen het die tyd wat sy swembadpomp loop, van 12 uur per dag tot 4 uur verkort, en sewe maande van die jaar word die swembad heeltemal toegemaak en hoef die pomp glad nie te loop nie.
Hy het ’n swembadbedekking ontwerp wat soos ’n walvis-boggel oor die swembad gespan is. Dit sorg dat die water geen lig kry nie en dus kan alge nie daarin groei nie. Die boggel keer dat reënwater, blare en stof bo-op die swembadbedekking versamel.