Elma Kloppers
Johannesburg. – Kleinhandelsentrums wat op die laerinkomstegroepe gemik is, is die stervertoners in genoteerde eiendomsportefeuljes.
Die vertoning van dié sentrums in townships, plattelandse gebiede en middestede oortref die vertoning van hul deftiger voorstedelike eweknieë.
Dit is ’n vuurwarm sektor en eiendomsgroepe wat reeds van dié eiendomme het, beplan om dit te vergroot op aandrang van kleinhandelaars. Daar is ook intense mededinging onder ontwikkelaars om hul kleim in die gebiede af te steek.
Die goeie vertoning van die sentrums word grootliks gedryf deur regeringstoelaes en groot getalle besoekers omdat die meeste van hulle aan ’n taxistaanplek gekoppel is.
Mnr. Laurence Rapp, uitvoerende hoof van die genoteerde eiendomsfonds Vukile, sê die maatskappy wil in die plattelandse en stedelike markte uitbrei en gaan van sy township-sentrums vergroot.
Vukile se kleinhandelsentrums wat op die laer LSM-groepe gemik is, behaal ’n beter handelsdigtheid (omset per vierkante meter) en sterker groei in die getal maandelikse besoekers as die meeste voorstedelike sentrums. Die handelsdigtheid van die nasionale kleinhandelaars in die sentrums blyk ook hoër te wees.
Die maatskappy se Daveyton Mall van 17 095 m² in die Daveyton-township aan die Oos-Rand lok maandeliks sowat 920 000 besoekers, wat baie is vir ’n sentrum van dié grootte. Altesame 65% van die besoekers aan die sentrum is vroue van 23 tot 35 jaar oud.
Mnr. Keillen Ndlovu, hoof van Stanlib se eiendomsfondse, sê hoewel die besteding per capita minder is as dié in voorstedelike gebiede, kry die omset ’n geweldige hupstoot deur die groot getal besoekers.
Die sentrum, wat gemik is op die LSM-inkomstegroepe 3 tot 5, het ’n jaarlikse handelsdigtheid van R28 000/m², sê mnr. Kobus Ferreira, Vukile se batebestuurder vir kleinhandel. Dit verteenwoordig jaarlikse groei van 9%.
Die handelsdigtheid van voorstedelike sentrums is tussen R20 000/m² en R30 000/m² per jaar. Hy sê die handelsdigtheid van nasionale voedselkettings in Daveyton Mall beloop R55 000/m² per jaar, terwyl klerewinkels ’n digtheid van selfs R59 000/m² per jaar handhaaf.
Vukile het planne om die sentrum met minstens 9 000 m² te vergroot en wag dat die stadsraad die aansoek oorweeg.
Vukile se Dobsonville-sentrum van 23 177 m² in Soweto wat die LSM-inkomstegroepe 4 tot 6 bedien, lok 958 000 besoekers per maand en het ’n handelsdigtheid van R27 900/m² per jaar. Dit verteenwoordig jaarlikse groei van 12%.
Ferreira sê die sentrum is allermins geraak deur die koms van die Jabulani- en die Maponya-sentrum wat ook in Soweto verrys het.
’n Nuweling op die beurs, Rebosis, se sentrums, wat die laer LSM-groepe bedien, vaar goed, met ’n buitengewoon hoë getal maandelikse besoekers. Onder die sentrums tel Mdantsane City van 36 500 m² in die township Mdantsane in Oos-Londen en die Bloed Street Mall van 26 500 m² in die Pretoriase middestad naby ’n besige taxistaanplek.
Mnr. Mike Rodel, bedryfshoof van Rebosis, sê albei sentrums het ’n hoë persentasie nasionale huurders met ’n goeie mengsel van plaaslike kleinhandelaars.
Mdantsane lok gemiddeld 650 000 besoekers per maand.
Hy sê hoewel die gemiddelde besteding per mandjie minder is as dié van streekwinkelsentrums, het albei ’n gemiddelde handelsdigtheid van na aan R20 000/m² per jaar. Dit vergelyk goed met dié van groter voorstedelike winkelsentrums.
Die Fortress-eiendomsfonds pluk ook die vrugte van sy strategie om in kleinhandeleiendomme te belê wat op die laer LSM-groepe fokus. Dié fonds se kleinhandelbates in plattelandse gebiede wat op pendelaars gemik is, het dubbelsyfer-uitkeringsgroei in die ses maande tot einde Desember moontlik gemaak. In die oorsigtyd het Fortress ’n gekombineerde uitkering van 62,65c verklaar, wat groei van 10,22% verteenwoordig teenoor die 58,84c van die vorige ooreenstemmende tydperk.