Eskom betaal sakekliënte om krag te bespaar

Johannesburg. – Eskom gaan Xstrata en Merafe Resources se ferrochroom-vennootskap betáál om tot einde Mei vyf van sy boogoonde af te skakel.

Ná onderhandelinge het Eskom ingestem om “die krag terug te koop wat die vyf oonde nie gebruik nie”, het die vennote in afsonderlike verklarings gesê.

Hulle het reeds vroeg vanjaar twee van die oonde afgeskakel om die kragnetwerk te help “stabi­liseer”. Eskom se reserwe-opwekkingsvermoë is tans uiters min en die elektrisiteitsmaatskappy probeer ’n herhaling van 2008 se rampspoedige kragonderbrekings by onder meer die meeste groot myne keer. Dit is die eerste ooreenkoms van dié aard, volgens me. Hilary Joffe, Eskom se woordvoerder.

Eskom het onlangs met ’n aantal groot kliënte ooreenkomste onderteken waarvolgens hulle betaal kan word om in tye wanneer die reserwe­vermoë min is, produksie op te skort, sê sy.

Dié ooreenkomste dek sowat 400 MW, en Eskom soek nóg.

Dit verskil van Eskom se skema waarvolgens hy groot kliënte kon betaal om vir kort tydperke, “soos gedurende spitstye”, krag te bespaar.

Danksy Eskom se vergoeding sal die sluiting van die boogoonde ’n “positiewe netto uitwerking” op die vennootskap hê en as gevolg daarvan word geen afleggings beplan nie, sê Merafe en Xstrata.

Die omvang van die ooreenkoms is vertroulik en aangesien Merafe in ’n geslote tydperk is voordat hy sy finansiële resultate bekend maak, kan hy ook nie sê wat die uitwerking op sy omset gaan wees nie, het me. Kajal Bissessor, Merafe se woordvoerder, gesê.

Volgens Xstrata en Merafe sal vier van hul Rustenburg-kompleks se ses oonde af wees en een van die ses by die naburige Wonderkop-kompleks.

Die vennootskap het altesame 20 oonde in die land wat tegnies net minder as 2 miljoen ton ferrochroom per jaar kan lewer, hoewel hul volle vermoë selde benut word.

Die beplande opskorting sal die vennote sowat 100 000 ton aan produksie kos, maar dit sal nie ­lewering aan gekontrakteerde klante bedreig nie, is Vrydag herhaal.