Hoë opbrengs beloof, maar pas op vir risiko

Nie ’n belegging, maar ’n onderneming

Kaapstad. – Die 30%-opbrengs wat die maatskappy Oneserv mense beloof wat elk R1 miljoen instoot, laat finansiële raadgewers se hare rys.

’n Reeks advertensies van Oneserv wat onlangs in Sake24 verskyn het, is op die oog af op afgetredenes gerig. ’n Opbrengs van 19% word ook beloof op enige bykomende kapitaal wat ­ingesit word en die woorde “stabiele”, “hoë opbrengs” en “lae risiko” word gebruik, maar daar word nie verduidelik watter soort sakeonderneming dit is nie.

’n Groot finansiëledienstemaatskappy wat genader is om kommentaar op die advertensie, het gesê beloftes oor sulke opbrengste laat die hare rys.

Dit is ook nie op Oneserv se webwerf onmiddellik duidelik dat sy bedrywighede met mikroleningsake verband hou nie.

Mnr. Gerhard Ferreira, bedryfshoof van Oneserv, beskryf dit as ’n sakegeleentheid in die mark vir ongesekureerde lenings. Hy ontken die koerantadvertensie is op afgetredenes gemik.

Oneserv rig glo maatskappye op vir die mense wat geld insit wat dan blykbaar by die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) as kredietverskaffers geregistreer word. Die persoon se geld word dan glo via ’n elektroniese stelsel aan verbruikers geleen.

Dit word beskryf as ’n mikro­lening wat tussen die persoon en die lener aangegaan word. Dié mikrolenings word deur ’n sustermaatskappy, SAMultiLoan (SAML), gewerf. Die opbrengs kom dan uit die rente wat die leners op die lenings betaal.

Volgens mnr. Johan van Wyk, Oneserv­ se bemarkingshoof, word ’n bankrekening geopen vir die persoon wat die geld insit.

Hy het gesê die persoon het alleen beheer oor die rekening. Lenings word regstreeks uit die “belegger” se rekening betaal. Die lenings word ­ingevorder deur ’n sustermaatskappy, Onecollect, wat dit weer in die “belegger” se rekening inbetaal.

Altesame 274 ondernemings is glo al as kredietverskaffers geregistreer en R700 miljoen is ingesit.

Oneserv voer aan dat nie hy of SAML, die werwer van die lenings, as kredietverskaffer geregistreer hoef te wees nie.

Die Raad op Finansiële Dienste (RFD) sê dit is nie instellings wat ­beleggings aan beleggers verskaf nie, maar wel mikrolenings en dit val daarom onder die vaandel van die NKR. Die NKR het gesê om te bepaal of Oneserv en SAML wel geregistreer moet wees, sal hul struktuur eers ten volle ondersoek moet word.

Ferreira het gesê die 30% en die 19% is jaarlikse opbrengste en bestaan uit onderskeidelik 2,5% en 1,58% per maand.

Hy beskryf Oneserv as ’n “fasiliteerder en diensverskaffer” in die struktuur. ’n Eenmalige “vestigingstarief” van R50 000 word gehef.

Oneserv se “diensgelde” behels ­alle rente en gelde bo die 2,5% per maand wat die persoon verdien.

V Die nuutste advertensie stel dit duidelik dat Oneserv ’n sakegeleentheid in die finansiëledienstebedryf is en verwys nie meer na aftrede nie.

Mnr. Magnus Heystek van Brenthurst Wealth meen die Oneserv-advertensie is misleidend.

Hy waarsku dat dit ’n onderneming is, met al die risiko’s wat daarmee gepaardgaan.

Hy het gesê die afwesigheid van reguleringsbeheer sal hom bekommerd maak.

“Mense moet hul huiswerk deeglik doen, soos hoe veilig die kapitaal is en hoe oproepbaar die geld is – dus hoe vinnig die geld teruggekry kan word.”

Die kontrak moet ook deeglik bekyk word om uit te vind wat die aard van die transaksie is. Iemand wat nie seker is nie, moet dit deur ’n professionele persoon laat ­nagaan.

Mnr. Roeloff Horne, direkteur van MitonOptimal Multi Asset ­Management, sê hoewel daar plek is vir beleggings in die mark vir ongesekureerde lenings (mikro­finansiering), hoort dit by die ­gesofistikeerde belegger wat die risiko van die bedryf verstaan.

Mnr. Hennie Ferreira, uitvoerende hoof van die bedryfsliggaam MicroFinance South Africa, meen Oneserv skep ’n geleentheid vir mense wat in die mikrofinansieringsbedryf wil inkom, maar hy beskryf mikrofinansiering as ’n hoë­risikobedryf.

Hy het gesê die skema kan egter nie met ’n Sharemax vergelyk word nie. “Die persoon doen nie afstand van sy geld nie – dit bly in sy naam. Wat inkom, gaan in sy bankrekening in en jy keur elke ­lening goed. Dit is nie ’n donker poel waarin geld verdwyn nie.”