Edward-John Bottomley
Kaapstad. – Die Amerikaners kom, sê die nuwe eienaar van die kletsdiens Mxit – en hulle kom met alles wat hulle het.
As hy dit nie regkry om Mxit se sake om te keer nie, sal die sosiale media in Afrika aan die Amerikaners behoort, sê mnr. Alan Knott-Craig jr., uitvoerende hoof van die beleggingsgroep World of Avatar.
“En hulle sal vir ons sê wat om te drink en wat om te eet. Hulle sal die kultuur skep.”
Knott-Craig is ernstig oor die rol wat die gewilde kletsdiens speel in die lewe van die jeug op die vasteland.
Volgens hom is daar nou byna 50 miljoen Mxit-intekenare in 120 lande van wie meer as 10 miljoen elke dag die diens gebruik. Tussen 35 000 en 50 000 mense teken elke dag op Mxit se diens in.
Tot dusver was Mxit, wat in 2006 in Stellenbosch gestig is, heel tevrede daarmee om (relatief) klein te dink.
Nie meer nie, sê Knott-Craig, wat verlede jaar die maatskappy vir ’n onbekende bedrag gekoop het nadat mnr. Herman Heunis, vorige uitvoerende hoof, besluit het om sy belang te verkoop. Naspers, wat die res besit het, het toe ook besluit om aan World of Avatar te verkoop.
Mxit herstruktureer tans, onder meer om sy weergawes op verskeie slimfone, veral Apple se iPhone, te verbeter. Die kletsdiens word ook oopgestel aan buite-programmeerders sodat hulle hul eie sagteware kan skep. Tot dusver was Mxit se beleid om al die speletjies en dienste wat hy aanbied, self te skep.
Enigiemand sal iets kan skep en dit aan ander gebruikers kan verkoop, amper soos in Apple se uiters gewilde App Store. Facebook behaal groot sukses met dié konsep. Nadat hy ’n paar jaar gelede só ’n besluit geneem het, is hy binne ’n kort tydperk byna toegegooi onder sagteware. Deesdae maak byvoorbeeld Zynga, die skepper van onder meer FarmVille, meer as 10% van Facebook se omset uit.
“Ons wil ’n ekonomie van mikro-entrepreneurs skep,” sê Knott-Craig. Mxit het ’n filosofiese twisgesprek met Facebook aan die gang. Knott-Craig glo gebruikers stroom Mxit toe vanweë die anonimiteit – “hulle wil van hul alledaagse omstandighede ontsnap”.
Facebook lê groot klem op gebruikers se persoonlike inligting sodat hy advertensies kan verkoop, sê Knott-Craig. Mxit se beleid is om nie meer as 10% van sy omset met advertensies te maak nie.
Waar kom die geld dan vandaan? Knott-Craig wil ’n mobiele betaalstelsel skep sodat elkeen van sy miljoene gebruikers Mxit Moola kan gebruik om in ’n koffiewinkel vir sy koffie te betaal.
Die maatskappy het onlangs First National Bank oorreed om die transaksiekoste vir Mxit Moola wesenlik te verlaag om dié diens aantrekliker te maak. Mxit wil ook teen April, wanneer die herstruktureerde maatskappy bekend gestel is, minstens een groot kettinggroep in Suid-Afrika hê wat Mxit Moola toelaat.
As deel van sy herstrukturering het die maatskappy in die afgelope week sy boeke oopgemaak en gewys dat hy verlede jaar ’n inkomste van sowat R100 miljoen gehad het, maar steeds uiteindelik ’n verlies gely het.
Volgens Knott-Craig móét Mxit vanjaar ’n wins toon, “of ons is dood”. Hy het vertroue in die nuwe Mxit. “As ek nie geglo het dit is moontlik nie, sou ek nie die maatskappy gekoop het nie.”