Byna 100 klagtes is die afgelope jaar op die verbruikerswebwerf Hellopeter aangeteken oor SAMultiLoan (SAML), ’n maatskappy wat nie as ’n kredietverskaffer geregistreer is nie en deel is van ’n ingewikkelde mikroleningskema.
Van die klagtes is 20 in die afgelope maand gekry en 49 in die afgelope twee maande.
Dit lyk uit die klagtes of die klaers glo hulle leen geld by SAML. Dit handel meestal oor lenings wat goedgekeur is, maar die geld is nie ontvang nie of nie betyds ontvang nie.
Die kredietombudsman het bevestig dat hy ook al klagtes ontvang het.
“Ek het om ’n lening aansoek gedoen by SAMultiLoan in Pretoria, Sammy Marks Square,” skryf Zinhle32 in Januarie op Hellopeter.com. ’n Week later is ’n lening wat volgens die onderneming goedgekeur is, nie uitbetaal nie. Sy het “desperaat” geld gesoek om skoolklere vir haar seun te koop. “Dit is die eerste keer dat ek geld by SAMultiLoan leen en beslis die laaste keer.”
Mnr. Johan van Wyk, bemarkingsbestuurder van Oneserv, sê die groot klomp klagtes hou verband met die vraag na lenings wat die aanbod van kapitaal oorskry.
Me. Zelna Oberholster, kommunikasiebestuurder van die moedermaatskappy, Onesys, het gesê dit was veral in Desember die geval. “Dit beteken dat ons nie alle lenings betyds kon goedkeur nie.”
Sy het gesê SAML is ’n leningswerwer en is daarom nie geregistreer as kredietverskaffer nie. (Lees berig hiernaas.)
Volgens haar word SAML ingevolge die Nasionale Kredietwet as ’n “agent” beskou. ’n Agent is ’n persoon wat aangestel word om die kredietverskaffer te verteenwoordig, het sy verduidelik.– Nellie Brand-Jonker