Nellie Brand-Jonker
Kaapstad. – Die Reserwebank ondersoek die mikroleningsmaatskappy Onecor, waarvan Oneserv volgens die bank ’n afdeling is.
Die ondersoek het glo reeds verlede jaar begin.
Adv. Michael Blackbeard, adjunk-registrateur van banke van die Reserwebank, sê Onecor word ondersoek en volgens die aanstellingsbrief van die inspekteur word enige verwante party (natuurlike of regspersoon) ook ingesluit.
Hy sê die inspekteurs het bevestig dat Oneserv ’n afdeling van Onecor is, derhalwe word hy ook ondersoek. Oneserv ontken dat hy ’n afdeling van Onecor is.
Onecor en Oneserv is glo albei afdelings van die Onesys-groep.
Die Reserwebank ondersoek ongeregistreerde entiteite sodra ’n klagte ontvang is en daar rede is om te vermoed dat die Bankwet oortree word.
In so ’n geval word inspekteurs aangestel om die persoon se sake te ondersoek.
Oneserv werf kapitaal vir mikrolenings wat deur die groep se leningsmakelaar, SAMultiLoan, gewerf word. (Lees die meegaande berig.) Die Bankwet word oortree as ’n ongeregistreerde maatskappy die sake van ’n bank doen, het Blackbeard gesê. Dít word in die Bankwet omskryf as “die neem van deposito’s van die man op straat”, wat ’n algemene gebruik van die onderneming is.
Mnr. Johan van Wyk, bemarkingshoof van Oneserv, sê hulle bedryf nie die sake van ’n bank nie, omdat hulle nie beleggers se geld neem nie. Die geld wat by ’n persoon gewerf word en gebruik word om mikrolenings toe te staan, bly deurgaans in sy eie rekening.
Sake24 het Vrydag vrae oor die ondersoek na Oneserv en die direkteure van Onesys gestuur.
Mnr. Emile Aldum, ’n direkteur van die Onesys-groep, sê die Reserwebank het “inderdaad navraag gedoen na aanleiding van ’n skrywe wat aan die bank gerig is en waaraan bemarkingsmateriaal aangeheg is wat voorgee dat Onecor deposito’s van die publiek lok”.
“Die betrokke bemarkingsmateriaal is nie deur enige maatskappy in die Onesys-groep opgestel of gebruik nie. Die inligting daarin vervat is inderdaad vals.” Hy beskryf Oneserv as ’n diensverskaffer aan die kredietverskaffingsbedryf.
Volgens hom is Onecor ’n kredietverskaffer wat uitgefaseer word.