Mari Beukes en Bloomberg
Johannesburg. – Die Griekse skuldkrisis is nie meer ’n tragedie nie. Vir die meeste beleggers hoort dit nou eerder in die teater van die absurde.
Wêreldmarkte is verlede week heen en weer geslinger tussen optimisme en kommer oor of Griekeland ’n tweede hulppakket van die Europese Unie (EU) en die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) sal ontvang.
Optimisme het Vrydag oorheers en aandelemarkte en die euro het verstewig, met die rand agterna. Die JSE se indeks van alle aandele het Vrydag 0,83% gewen nadat hy Donderdag 0,85% in die rooi gesluit het. Hy het die week 0,56% hoër afgesluit op 34 083.
Die rand het Donderdag tot so ver soos R7,89 teenoor die dollar teruggesak, maar teen Vrydagmiddag laat tot R7,73 verstewig.
Mnr. Mario Monti, die Italiaanse premier, se kantoor het Vrydag gesê dr. Angela Merkel, Duitse kanselier, en dr. Lucas Papademos, Griekse premier, is vol vertroue dat ’n ooreenkoms oor die hulppakket Maandag bereik sal word, wanneer die EU se ministers van finansies in Brussel, België, vergader.
Die leiers het Vrydag ’n telekonferensie gehou nadat Athene met verdere besuinigingsmaatreëls vorendag gekom het waardeur hulle nóg €325 miljoen kan bespaar.
Me. Annabel Bishop, ekonoom by Investec, sê Griekeland se ooreenkoms met die EU het ’n bewegende teiken geword.
“Ons is effens skepties dat ’n ooreenkoms binnekort bereik sal word. Die owerhede sê nou al die afgelope maand dat hulle ‘binne ’n paar dae’ die ooreenkoms sal afhandel.”
Die Griekse parlement het verlede Sondag reeds ’n stel uiters ongewilde besuinigingsmaatreëls goedgekeur sodat plaaslike politieke verskille uitgestryk was voordat die EU-ministers Woens- dag oor die hulppakket sou vergader.
Dié vergadering is egter tot Maandag uitgestel omdat die EU nie geskrewe bevestiging van Griekeland ontvang het dat die land die besuinigingsmaatreëls wat die hulppakket vereis, sal instel nie.
Die EU en die IMF is bekommerd dat die Grieke nie ná die nasionale verkiesing in April by hul belofte van streng besuiniging sal bly nie.
Athene is verlede naweek geruk deur gewelddadige betogings teen besuiniging. Gewone Grieke meen die EU neem die brood uit hul mond.
Die EU wil ook hê dat ’n deel van die hulppakket spesifiek afgesonder word vir die delging van Griekeland se skuld.
Die wêreldmarkte het Woensdag teruggesak weens gerugte dat die EU dalk tot ná die verkiesing sal wag voordat die hulppakket uitbetaal word. Sonder die pakket van €130 miljard sal Griekeland nie die staatskuld wat op 20 Maart verval, kan betaal nie. Athene het vroeër gesê dat hy teen verlede Maandag, en daarna op die laaste teen verlede Vrydag, ’n ooreenkoms met die EU moet bereik sodat hy voor 20 Maart ’n skuldruiltransaksie met sy private krediteure kan afhandel.