Dié landelike dele gee SA groei stoom

PE aangehelp deur motorsyfers

Johannesburg. – Danksy die deur­lopende ontginning van sy ryk platinumneerslae is Rustenburg in Noordwes loshande die Suid-Afrikaanse dorp met die snels groeiende ekonomie.

Met Johannesburg, Pretoria, Durban en Kaapstad as “groter stads­gebiede” uitgesluit, was die grootste ekonomiese groei (meer as 3% in kleiner gebiede) in 2010 in Rustenburg 3,9%, Polokwane 3,5% en Vereeniging 3,1%, lui ’n verslag van IHS Global Insight (IHS).

Port Elizabeth in die Nelson Mandelabaai-metro het met 4,2% gegroei, maar dit word volgens mnr. David Wilson, ’n senior ontleder van IHS, as “net tydelik” beskou.

Op die platteland sonder Wilson die Letsemeng- munisipale streek in die Wes-Vrystaat uit.

IHS het ’n streeksontleding van die groei van die bruto binnelandse produk (BBP) vir 2010-’11 gedoen en die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge het pas ’n verslag hieroor gepubliseer.

Wilson sê die Nelson Mandelabaai-metro se sterk groei is net danksy die motorvervaardigingsbedryf wat “effens terugwip”. “Dit wys net die motorbedryf verbeter. Port Elizabeth haal eintlik net in.”

Ook die Letsemeng-streek (Petrusburg, Luckhoff, Koffiefontein, Jacobsdal en Oppermansgronde) vaar volgens Wilson goed, maar dit gaan waarskynlik net tydelik wees.

Wilson skryf Letsemeng se groei gedeeltelik toe aan regeringsbesteding, soos aan nuwe skole, en die pryseffek in die diamantbedryf, wat herstel van lae vlakke van 2008’-09. Koffiefontein het ’n myn.

Letsemeng se ekonomie het in 2010 met 9,7% gegroei. “Dit is net ’n tydelike oplewing,” sê Wilson. “Die uitwerking van die pryseffek is nie blywend nie.”

Mnr. Kempen Nel, DA-raadslid en boer in Letsemeng, stem saam dat mynbou nie die blywendste groei­faktor vir die streek gaan wees nie. Sy hoop is op die boerderybedrywighede gevestig.

“Die boere se bydrae tot die ekonomie is taamlik standvastig,” sê Nel.

’n Goeie vooruitsig vir die streek is die groot Bosrah-besproeiingsprojek van 2 000 ha tot 3 000 ha tussen Luckhoff en Jacobsdal vir opkomende boere.

“Nagenoeg 100 ekonomiese een­hede (30 ha grond) gaan aan die boere gegee word. Net die werkskepping daardeur gaan ’n groot bydrae tot die Letsemeng-ekonomie lewer,” meen Nel.

Dié projek word deur die departemente van waterwese en landbou gedryf. Die plaaslike besproeiingsraad, die Oranje-Riet-watergebruikersvereniging, is ook daarby betrokke.

V In teenstelling met dié suksesverhale lyk vooruitsigte vir mynbou en vervaardiging aan die Rand volgens die IHS-ontleding bra troebel. Hoewel Vereeniging en die Wes-Rand in 2010 groei getoon het, is die BBP-groei per capita baie swak.

Volgens Wilson was daar ’n skerp daling in alle vervaardiging gedurende die resessie en dit sal nie voor 2013-’14 herstel nie.

Die ekonomiese opbloei in Rustenburg het daartoe geleie dat die vraag na huureiendomme die aanbod “by verre” oorskry.

Die skaarste bring mee dat huureiendomme se pryse in vergelyking met die res van die land baie hoog is, sê mnr. Ryno Cilliers, prinsipaal van Huizemark Rustenburg. “Dit maak die eiendomsmark uiters gunstig vir beleggers omdat hulle ’n goeie opbrengs kry,” sê hy.

Cilliers sê tans is Rustenburg se eiendomsmark taamlik lewendig, maar groei in pryse volg grotendeels die nasionale neigings.

Daar is heelwat aktiwiteit in kommersiële sowel as residensiële ontwikkelings wat ’n sterk weerspieëling is van die goeie sentiment ten opsigte van die ekonomiese groei in Rustenburg, sê Cilliers.

“Daar word tans gebou aan nuwe winkelsentrums en ontwikkelaars verkoop hul eiendom van die planne af. Koopkrag in Rustenburg is sterk as gevolg van goeie werkgeleenthede.”

Mnr. Pieter Malan, voorsitter van die Rustenburg-sakekamer, sê die ekonomie het die potensiaal om in die toekoms met 12% per jaar te groei.

Hy het ’n “ekonomiese droom” waar hy Rustenburg oor 10 jaar as ’n model van goeie samewerking van die openbare en private sektor sien, waar groot, medium- en klein ondernemings saamwerk aan streeksontwikkeling.

Malan meen die grootste probleem vir die dorp is ’n gebrek aan ’n geïntegreerde ekonomiese ontwikkelingsplan.

“Die provinsie, munisipaliteit, staatsinstellings, mynhuise en kleinsake werk in afsondering.”

Rustenburg, die voorloper in streekgroei, het in 2010 met 3,9% gegroei en verlede jaar met ’n geraamde 6%, sê mnr. David Wilson, senior ontleder van IHS Global Insight.

In 2010 was 68% van die dorp se algehele bruto binnelandse produk van mynbou afkomstig en verdere groei van 2% kan volgens Wilson verwag word.

Hy sê die ekonomiese groei in Rustenburg word aangedryf deur die deurlopende ontginning van platinum.

Rustenburg se nabyheid aan Sun City lewer ook ’n bydrae tot ekonomiese groei – meer toeriste besoek die omgewing se aanloklikhede, sê Wilson.

Volgens hom het Rustenburg se groei nie oornag plaasgevind nie. Oor ’n tydperk van 10 jaar het werkloosheid in Rustenburg van 16,5% tot 10% gedaal.

“Dit alles weerspieël reële ekonomiese groei wat tot selfs 15% gestyg het en nominale groei van amper 25%.”

Wilson sê as die groei volhoubaar is, kan die dorp se ekonomie oor die volgende vyf jaar met 10% tot 13% groei.

Dit sal ook net kan gebeur as die myne nie “al hoe leër ontgin” word nie, sê Wilson.