Gebruik haelgeweer toe kabeldiewe aanval
Marietie Louw-Carstens
’nBoer van Marble Hall, Limpopo, het gister twee koperkabeldiewe op sy plaas met ’n haelgeweer geskiet, waarna hulle in ’n plaasdam geval en gesterf het.
Mnr. Lucas Terblanche (40) van die plaas Toitskraal het gistermiddag gesê die twee mans wou hom met ’n slagtersmes steek.
“Hulle wou my aanval. Toe skiet ek hulle. Daar word elke dag ’n boer doodgemaak.”
Lt.kol. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder in Limpopo, het gesê die polisie het twee moorddossiere aangelê. Daar sal volgens hom in die nadoodse ondersoeke vasgestel word of die mans weens die skietwonde dood is en of hulle verdrink het.
Terblanche, wat met tabak, groente en suurlemoene boer, het gesê hy het al derduisende rande se skade weens kabeldiefstal gely.
Veiligheidswagte op sy plaas het die twee mans van onderskeidelik 32 en 35 jaar oud gisteroggend omstreeks 02:00 gewaar, het hy gesê. Hulle was glo besig om kabels by ’n waterpompstasie naby ’n dam uit te grawe.
Die veiligheidswagte het Terblanche gebel en gesê hulle het die twee mans gesien. Hy is met sy haelgeweer na die dam. Die mans het hom glo met die mes bestorm toe hulle hom sien.
“Hulle was sowat 5 m van my af. Ek het albei in die nek geskiet.”
Die gewonde mans het glo neergeval en van die damwal af tot in die water gerol.
Terblanche het gesê die een man het so 3 m ver geswem voordat hy onder die water verdwyn het. Sy makker het glo sowat 30 m ingeswem voordat hy begin spartel en onder die water verdwyn het.
Volgens Terblanche het hulle niks gesê nie, net “snaakse kreungeluide gemaak”. Hy het die polisie daarna van die skietery in kennis gestel.
Terblanche het gesê hy was gistermiddag by ’n dokter.
“Dit pla my. Dit is nie lekker om iemand te skiet nie, maar as ’n mens so lees van boere wat vermoor word . . . dit kon ek gewees het.”
Ramatseba het gesê polisieduikers het die twee lyke gisteroggend uit die dam gehaal.
Die mans was van die Maganagobuswa-nedersetting in Siyabuswa in Mpumalanga. By Beeld se ter perse gaan kon hul name nog nie bekend gemaak word nie omdat al hul familielede nog nie van hul dood ingelig is nie.
Terblanche is nie weens die skietery in hegtenis geneem nie.
“Die direkteur van openbare vervolging (DOV) sal moet besluit of die boer vervolg gaan word,” het Ramatseba gesê.